MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaaiers wat op die Costa Pacifica tydens 'n veelbewoë transatlantiese vaart by verskeie hawens weggewys is vanweë die uitbreek van die koronaviruspandemie, is terug op eie bodem.
Die Mossel Bay Advertiser het verlede week berig oor die groep se wedervaringe by monde van Hennie Cremer.
Cremer, is soos verlede week berig is, tans saam met familie in vrywillige afsondering wat aaneenloop met die inperkingsperiode wat gister, 26 Maart begin het. Nietemin, sê Cremer is hulle bly op tuis te wees.
Die Costa Pacifica het op 9 Maart uit Brasilië vertrek en moes ná verskeie mislukte pogings om passasiers aan wal en gerepatrieer te kry, oplaas 'n haas uit die hoed haal om die Suid-Afrikaners tuis te kry.
Soos berig, sou die skip in Marseilles aandoen. Hierna is dit egter na Genoa. Cremer het vandeesweek Woensdag aan die Advertiser vertel dat hulle uiteindelik uitgevaar het na Civitavecchia, Italië. Vandaar het hulle via die Leonardo da Vinci-lughawe, Rome teruggevlieg na Suid-Afrika.
"Ons is baie professioneel hanteer, sonder enige kontak met enige geïnfekteerdes. Ons is reguit van die skip, na 'n bus, na die lughawe en toe huis toe." Op Kaapstad internasionale lughawe geland, is hulle ondersoek, koors is gemeet, vorms is ingevul en hulle is dadelik in self-isolasie, soos die plan van die begin af was. Geen lid van hulle groep het enige simptome van die virus getoon nie.
Op die skip, vertel Cremer, was hulle groep eintlik heeltemal geïsoleer van die koronavirus. Hy sê dat die merkbare negatiwiteit aangaande Suid-Afrikaners wat in die buiteland was vóór die uitbreek van die koronavirus se terugkeer na die land, hom eintlik ontstig.
"Wat ons tans beleef is ongekend. Dit is die eerste keer in ons almal se leeftyd dat ons só iets beleef. Maar ons is opgevoed oor die riglyne en moet die omstandighede in hierdie lig hanteer."
Cremer sê dat hulle sedert 2019 al beplan aan hulle reis. "Natuurlik is dit 'n teleurstelling. So 'n reis is 'n noemenswaardige finansiële uitleg. Wie sou kon dink dat 'n virus so 'n effek op die wêreld kon hê?"
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'