MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n beroep op ouers om te verseker dat hul kinders veilige vervoer skool toe en terug gebruik.
'n Taxi-bestuurder, wat met 21 leerders in sy voertuig probeer het om Mosselbaai-munisipaliteit se verkeersbeamptes te ontglip is wel aangekeer, maar die bestuurder het die niksvermoedende leerders se lewens in die proses in gevaar gestel.
Die afgelope week het verkeersbeampte Maryke Zeeman en kollegas 'n roetine-voorstaandiens in Sampsonstraat gehou toe die lede opmerk dat 'n taxi-bestuurder 'n U-draai maak, waarskynlik om nie deur die verkeerspersoneel voorgekeer te word nie. Inspekteur Zeeman het onmiddellik die taxi agterna gesit en om 06:45 regoor die Uitbreiding 23-sportgronde in Bill Jefferyweg dit voorgekeer.
Binne die taxi, wat gemagtig was om 15 passasiers te vervoer, is 21 leerders aangetref. Boonop was nie een van die leerders verbonde aan die skole waarvoor die taxi gelisensieer is nie.
Die verkeersbeamptes het onmiddellik gehelp om eers die leerders by hul onderskeie skole te besorg, voordat die taxi geskut en die eienaar van die taxi 'n boete opgelê is. Die taxi is na George geneem om geskut te word. 'n Stewige boete van minstens R7 000 is betaalbaar alvorens die taxi aan die eienaar terugbesorg sal word.
Hierdie voorval is weer eens 'n bewys dat wetstoepassers die gemeenskap se veiligheid bo alles nastreef.
"Ek is besonder trots om die betrokke verkeersbeamptes wat onmiddellik reageer het op die verdagte optrede van die taxibestuurder. Die beamptes het hulle uitstekend van hul taak gekwyt ondanks moeilike omstandighede en het met toewyding en onverskrokke opgetree ter wille van die veiligheid van die kinders van ons gemeenskap," het die assitenthoof van die Mosselbaai-munisipaliteit se verkeersafdeling, Antoinette Snyders by navraag gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'