Update
MOSSELBAAI NUUS - Die vermeende inbreker wat in die vroeë oggendure van 13 Februarie by 'n woning in Uitbreiding 26 doodgeskiet is, is deur die polisie geïdentifiseer as die 36-jarige Piet Papier.
Papier was 'n inwoner van Joe Slovo in Mosselbaai.
Hy en 'n onbekende getal verdagtes het ten tye van die voorval by die woning ingebreek waarna Papier deur die huiseienaar doodgeskiet is.
Die Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem dat Papier ten tye van die voorval op parool uit was. Hy was glo voorheen gevonnis in verband met 'n saak wat verband hou met roof.
Die polisie het 'n beroep op familielede van Papier gedoen om met hulle in verbinding te tree. Hy is deur middel van vingerafdrukke geïdentifiseer.
Intussen duur die ondersoek deur die polisie voort en is niemand nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.
Enigeen met inligting kan die ondersoekbeampte in die saak, ao Adele Binneman kontak by 044 606 2272.
Vorige artikel: Vermeende inbreker in Mosselbaai doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'