MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Monte Christo het die afgelope week hulle ongelukkigheid uitgespreek oor 'n laning bome wat na bewering meer as 25 jaar oud is wat deur die Mosselbaai-munisipaliteit verwyder is.
Die Mossel Bay Advertiser het navrae aan die munisipaliteit in verband met die voorval gerig. Woordvoerder Cornelle Carstens het die voorval bevestig.
"Ingevolge 'n raadsbesluit en gepaardgaande ooreenkoms tussen die Mosselbaai-munisipaliteit en residensiële landgoedere in die omgewing, is daar uitvoering gegee aan die verwydering van die bome omdat dit erge skade aan die padoppervlakte veroorsaak," sê Carstens.
Carstens sê die munisipaliteit is verantwoordelik vir die instandhouding van die pad, onder meer die herseëling daarvan. "Volgehoue instandhouding sal nie kan voortgaan indien die boomwortels die padoppervlakte aanhou beskadig nie."
Volgens Carstens is die wildevyebome ter sprake se wortels besonder dig en dit het naby die grondoppervlak gegroei. "Ongelukkig is die bome, by aanplanting te na aan die pad geplant wat die effek van die boomwortels vererger. Van die boomwortels is vier maande gelede verwyder, maar reeds in die proses om terug te groei."
Die munisipaliteit was nie verantwoordelik vir die aanplanting van die bome nie en het ook eers in die onlangse verlede instandhouding van die pad oorgeneem. Dit is nie bekend wie die bome geplant het nie.
Deeglik bewus
Sy sê die huiseienaarsverenigings was na bewering deeglik bewus van die voorgenome verwydering van die bome en het die verantwoordelikheid by hierdie party berus om inwoners dienooreenkomstig in te lig. "Die kontrakteur wat vir die herseëlwerk van die pad verantwoordelik is, het desnieteenstaande die inwoners van die verwydering van die bome in kennis gestel. Vanweë klagtes aangaande die verwydering van die bome, moes die werk tydelik gestaak word. Die oorblywende twee bome sal egter wel verwyder moet word."
Die munisipaliteit is van voorneme om die bome met geskikte aanplantings in terme van die munisipaliteit se boombeleid, te vervang.
'n Vaste datum vir die aanplanting is nog nie vasgestel nie, hoewel dit in die vooruitsig gestel word dat dit teen die einde van 2023 wel gedoen sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'