MOSSELBAAI NUUS - Talle oop ruimtes op Mosselbaai, wat die trimpark naby Laerskool Park asook die Vintcentpark insluit, sal eersdaags deels ontwikkel word.
Mosselbaai munisipale woordvoerder, Nickey le Roux het by navraag bevestig dat daar onlangs oor oop ruimtes herbesin is.
Le Roux sê dit volg na verskeie klagtes ontvang is oor onder meer onderhoudsprobleme, vullisstorting, veiligheidskwessies, vandalisme en dwelmmisbruik in dié areas.
Die munisipaliteit was ook bekommerd oor moontlike onwettige grondbesetting. "Daar is toe besluit om te besin oor die benutting van groot oopruimtes in die groter Mosselbaai area en agt oop ruimtes is geïdentifiseer waarvoor verskeie voorstelle vir die potensiële aanwending opgestel is. Die voorstelle het verskeie opsies oorweeg, onder meer om glad nie te ontwikkel nie, tot om die spasies ten volle ontwikkel."
Oop ruimtes
Erf 4854 - Mosselbaai (Heiderand)
Dié oop ruimte is geoormerk as die hoof oop ruimte vir die Heiderand-area en meeste van die befondsing wat beskikbaar is vir die opgradering van oopruimtes hier in Heiderand word op hierdie oop ruimte spandeer. Gevolglik is die oop ruimte slegs vir opgradering geoormerk.
Erf 2011 - Mosselbaai (oorkant NG Suidgemeente)
Hierdie oop ruimte word in drie verdeel, naamlik ‘n gemeenskapfasiliteit met voorsiening vir onder meer ‘n gemeenskapsaal wat op tender deur privaat-ontwikkelaars ontwikkel sal word om diens aan gemeenskap te lewer; ‘n gedeelte waarop bestaande munisipale infrastruktuur (reservoir/substasie) voorkom; asook ‘n oop ruimte wat beveilig en ontwikkel sal word met die nodige oop ruimte infrastruktuur om deur die gemeenskap gebruik te word.
Erf 2011 - Mosselbaai (Vintcentpark)
Met hierdie ruimte word beperkte herontwikkeling in privaat oop ruimte en woonstelle voorgestel weens die onderbenutting van die oop ruimte wat boonop nie vrylik toeganklik is nie. Die Harry Giddey-park is as die hoof oop ruimte vir die betrokke area geïdentifiseer.
Hoek Kenhout- en Tambotielaan - Hartenbos Heuwels
Hoewel dit ‘n oop spasie is, is dit nie ‘n oop ruimte nie, maar deel van die straat en bestaan daar informele toegange oor die betrokke eiendom wat geformaliseer word deur ‘n proses van hersonering en onderverdeling. ‘n Histories probleem-area word deur dié proses reggestel. Woonstelle word in die vooruitsig gestel, aangesien daar reeds woonstelle aangrensend geleë is.
Erf 2418 - Hartenbos
Dié erf word in twee verdeel met 60 % wat gehersoneer word na Groepbehuising wat op tender beskikbaar gestel sal word aan privaat ontwikkelaars, en 40% wat gereserveer vir parkering vir ‘n kerk in die area. Verskeie ander oopruimtes is in die area geleë en groepbehuising is naasliggend.
Erf 5053 - Mosselbaai (Heiderand)
Dié erf word in twee verdeel met ongeveer die helfte daarvan wat bestem is vir groepbehuising soos wat reeds algemeen in Heiderand voorkom en ná ‘n tenderproses deur privaat ontwikkelaars ontwikkel sal word. Die restant van die oopruimte is bestem vir gemeenskapsgebruik en vir parkering vir naasliggende kerk Hierdeur word die oopruimte-funksie behou met die groepsbehuising wat die veiligheid van die area na verwagting sal verbeter, gegewe die ligging langs Louis Fourieweg. Die oop area is ook nie die primêre oop ruimte vir die area nie. Die vernaamste oop ruimte is op Erf 5109, wat opgedradeer sal word.
Erf 5109 - Mosselbaai (Heiderand)
Dié erf word ook verdeel met sowat 50% wat vir groepbehuising bestem is en deur privaat ontwikkelaars deur ‘n tenderproses ontwikkel sal word. Die res van die erf sal ‘n oop ruimte bly wat beveilig en ontwikkel sal word met die nodige oopruimte-infrasrutruktuur om deur die gemeenskap gebruik te word. Só sal die oop ruimte funksie behou, verbeter en beveilig word. Ook hier sal groepbehuising waarskynlik die veiligheid in area verbeter.
Erf 5176 - Mosselbaai (Heiderand)
Die voorstel is om die park te omskep in ‘n besigheidperseel aangesien die oop ruimte onderbenut en in ‘n besigheidsnode geleë is. Die oopruimte is baie naby aan Erf 5109, waar die oop ruimte funksie verbeter en beveilig gaan word.
Openbare deelnameproses
Die Raad het toestemming verleen dat voort gegaan mag word met die proses, wat die openbare deelnameproses insluit wat tans onderneem word. "Om te verseker dat die gemeenskap bewus is van die aansoeke, is al die aangrensende eienaars per e-pos ingelig, advertensies is in die Mossel Bay Advertiser (17 en 24 Julie) geplaas en kennisgewings op die betrokke oopruimtes geplaas sodat die inwoners kommentaar op die voorstelle kan lewer.
Die beplanning is nie om laekoste-behuising in die areas te vestig nie. Dit is nie op die behuisingspyplyn nie en word ook nie daarvoor oorweeg nie. Die eiendomme sal op tender uitgesit word en deur die privaatsektor ontwikkel word en die eiendomsmark sal die waardes bepaal, soortgelyk aan enige ander plek in Mosselbaai," sê Le Roux.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'