'n Oud-inwoner van Mosselbaai,Dirk Kotzé Toerien, alombekend as oom Dirk, is op Maandagoggend, 4 Februarie in die hoë ouderdom van 94 jaar in die Life Bay View-hospitaal oorlede.
Hy het twee tydperke in Mosselbaai gehad. In 1973 het die staat, vir wie hy as geoloog gewerk het, hom hierheen verplaas, waar hy werksaam was tot in 1979.
Oom Dirk is vir die laaste vyf jaar van sy werksloopbaan na Port Elizabeth verplaas en het in 1984 daar afgetree.
Hy het toe in Jeffreysbaai gaan woon en in November 1995 weer na Mosselbaai verhuis. Hier het sy lewensmaat van amper 65 jaar, Audrey hom in 2012 ontval.
Oom Dirk is toe in 2014 na Nelspruit waar hy by sy kinders gewoon het.
Op besoek aan Mosselbaai saam met sy oudste seun Dirk en die se vrou, Susan, het oom Dirk op Woensdagaand, 30 Januarie onverwags 'n beroerte gehad.
Hy is dadelik in die hospitaal opgeneem waar hy later oorlede is.
Een van die hoofredes waarom hy deur baie mense lank onthou sal word, was vir sy onfeilbare toewyding aan die Here, vir wie hy met sy hele hart liefgehad het.
Hy het op sewentienjarige ouderdom tot bekering gekom en die Here met oorgawe gedien tot sy dood.
Met so 'n lewe het hy diep spore in mense se lewens getrap en 'n groot nalatenskap gelos.
Oom Dirk se gedenkdiens word op Woensdag, 6 Februarie in die ouditorium van die Diaz Strand-hotel gehou.
Hy laat vier kinders, Jeanette (Enslin), Dawid, Dirk en Pierre, agter, asook ses kleinkinders en 11 agterkleinkinders. Volgende week word sy twaalfde agterkleinkind gebore, 'n vreugde wat hy met 'n week misgeloop het.
"Ons vind berusting in die feit dat hy by die Here is, by die Een vir wie hy so ontsettend liefgehad het."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'