Gallery
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Heuwelrust aftreeoord in Hartenbos Heuwels se oudste en netjieste inwoner, oom Andries (Dries) Fourie, is op 31 Julie 1921 op 'n plaas naby Robertson gebore.
Hy is die oudste van vier broers en het ook 'n halfbroer en -suster.
FOTOGALERY: Oom Dries vier sy 102de verjaarsdag
Oom Dries het skoolgegaan en gematrikuleer op Oudtshoorn, en na skool by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS&H) aangesluit waar hy tot en met sy aftrede eers as stasievoorman en later as spoorbaan-inspekteur gewerk het.
'n Tydperk van ongeveer 40 jaar.
Oom Dries en sy vrou, Hester, wat hom so 12 jaar gelede ontval het, het saam vyf kinders, drie seuns, Jurgens, Christo, Andries en twee dogters, Leonie van Wyk en Doreen Strydom. Strydom is die oudste dogter en was self Maandag by haar pa se verjaardag. Ongelukkig is sy die enigste van die vyf kinders wat plaaslik en naby aan haar pa bly. Sy het aan Mossel Bay Advertiser vertel dat een ding van haar pa was dat hy nooit dokter toe gegaan het nie en homself altyd gedokter het. "Dokter het my al gevra hoe my pa so oud geword het en ek het gesê dis omdat hy nooit dokter toe gegaan het," vertel Strydom.
Sportman
Al oom Dries se kinders leef nog met nege kleinkinders en nege agterkleinkinders. By die verjaardagpartytjie het oom Dries gedans op die musiek van sy konsertina-opnames wat hulle gespeel. Almal het ook Ou ryperd, wat sy gunsteling liedjie is, saam gesing.
Oom Dries het graag as jong man tennis gespeel asook kitaar, konsertina en sleutelbord. Hy was 'n kranige jagter, hengelaar en veerpyltjiespeler. Hy vertel hy het 'n spel van 101 gespeel sonder om 'n telbord te gebruik. Hy het as stokperdjie "grandfather" klokke reggemaak en gerestoureer.
Tot en met Februarie vanjaar jaar het oom Dries nog in sy eie huis gebly waar hy selfversorgend was en alles self gedoen het. Behalwe vir effense gehoorprobleme is daar niks skort met die 102-jarige nie, wat sonder 'n kierie loop en nie bril dra nie.
Al die personeel, inwoners van Heuwelrust, wyksraadslid Stephan Botha en burgemeester, Dirk Kotzé, het oom Dries 'n geseënde verjaardag toegewens en Gods rykste seën vir nog soveel goeie en gesonde jare saam met hulle by Heuwelrust.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’