MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai Ontspanningsklub het vanjaar weer baie planne om die gemeenskap by hulle bedrywighede te betrek.
Die klub hou op 13 Oktober 'n Langeberg-reüniesportdag. Rugby, netbal en sokker sal gespeel word. Daar is groot pryse op die spel vir deelnemers. Die sportdag word gehou by die D'Almeida-sportgronde en begin 07:00 met die eerste afskop om 08:00.
Spanne wat laat gaan arriveer moet dienooreenkomstig met die organiseerders reël.
Eden FM is genooi om regstreeks vanaf die stadiom uit te saai. Dit sal ook insluit dat hulle gedurende die afsluitingsfunksie dansmusiek verskaf. Tydens die afsluitingsfunksie word pryse om 21:00 aan die sportdagwenners uitgedeel. Vanjaar neem spanne van so ver as Parow, Malmesbury en Ceres deel.
Stalletjiestaanplek vir die sportdag is beskikbaar teen R100.
Die klub se gewilde Mystery Drive na Gansbaai, Overberg en Kaapstad vind vanjaar op 2 November plaas. Dit sluit twee aande se huisvesting in Overberg se chalets in, asook 'n besoek aan die Kaapstadse hawe en Kersinkopies kan gedoen word.
Daar is nog plek vir 10 mense om hierdie uitstappie mee te maak.
Op 11 November word die jaarlikse uitstappie vir kinders van 3- tot 16-jarige ouderdom aangebied. Die uitstappie is na Robbe-eiland, die Dias Museum, Blasters in Voorbaai, die ATKV-oord in Hartenbos en sluit ook verversings in.
Op 8 Desember kuier almal weer saam in Ponto Restaurant en geniet 'n buffetete uit die boonste rakke. Hierdie projek dien as 'n fondsinsameling vir die aankoop van geskenke en 'n Kerspartytjie.
Die Mosselbaai Ontspanningsklub is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en bestaan reeds 35 jaar.
Die klub beplan ook 'n sesdagtoer na Pretoria in 2020. Belangstellendes kan nou al bespreek en afbetaal. Vervoer is met Intercape-busdiens.
Vir enige navrae en besprekings, kontak Edward Meyer (078 286 6853), Jeanhimia Haymes (072 832 6642), Gaynor Pretoors (061 761 3670), John Platjies (073 133 2419) en Retjie Maart (021 937 7119 of 071 990 4916).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'