Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Mosselbaaiers het rede om trots te wees op die wyse waarop die munisipaliteit onontbeerlike infrastruktuur soos die waterontsoutingsaanleg, die watersuiweringswerke en ander aanlegte bestuur en instandhou." Dit was die mening van die Wes-Kaapse LUR vir Finansies, minister Ivan Meyer na 'n besoek aan verskeie munisipale aanlegte en projekte.
"Twee groot risiko's staar Wes-kapenaars tans in die gesig, die grootste daarvan is die droogte. Die verswelgende droogte het 'n uiters groot impak op voedselsekerheid en voedsel-inflasie. Juis dit maak die wyse waarop die Mosselbaai munisipaliteit die grootste ontsoutingsaanleg in die land bestuur, merkwaardig," het dr Meyer gesê.
Weens die droogte en uiterste behoefte aan gemeenskapsveiligheid, het die provinsiale regering R422m beskikbaar gemaak, met 'n verdere R100m in reserwe, juis om projekte wat hierdie probleme aanspreek, tydig te kan befonds.
"Dit was uiters waardevol om 'n suksesvolle ontsoutingsaanleg self te besoek, veral gegewe die behoefte om nog sodanige aanlegte in die res van die provinsie op te rig. Hier is dit duidelik dat behoorlike beplanning ook vir effektiewe instandhouding, selfs aspekte soos elektrisiteitsvoorsiening, dringend noodsaaklik is en waarskynlik die rede mag wees waarom sommige bestaande ontsoutingsaanlegte elders nie aan verwagtinge kan voldoen nie."
Dr Meyer het sy personeel ook opdrag gegee om verdere tegniese detail van Mosselbaai munisipaliteit te bekom wat as grondslag vir ander projekte in die provinsie kan dien.
Kyk 'n video hieronder:
"Burgemeester, die personeel verbonde aan die ontsoutingsaanleg en die onderskeie watersuiweringswerke verdien eervolle erkenning vir die werk wat hulle doen. Hulle werk maak dit moontlik vir gewone inwoners om gesond te leef," aldus dr Meyer. Hy het ook sy tevredenheid uitgespreek met die higiëniese toestande wat hy by die Kleinbrak-watersuiweringswerke aangetref het - en waar hy en ander hooggeplaastes selfs van die gesuiwerde water gedrink het.
Die Wes-Kaapse LUR van Finansies, minister Ivan Meyer (middel) was baie beïndruk met Mosselbaai munisipaliteit se ontsoutingsaanleg. Hier ontmoet hy die direkteur: tegniese dienste, mnr Dick Naidoo (links) saam met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'