MOSSELBAAI NUUS - Toe William Sam van die Mossel Bay Community Soup Drive tydens 'n ontbyt verlede naweek meer vertel oor die organisasie se werk, is daar glo meer as een hart aangeraak deur sy hartroerende pleidooi om ondersteuning.
Die Mossel Bay Community Soup Drive, 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie het die ontbyt as 'n fondsinsameling op Saterdag, 5 Maart in die D'Almeida-gemeenskapsaal aangebied. Die saal was tot kapasiteit gevul.
Sam verduidelik dat die platform ook gebruik is as 'n breër bekendstelling vir die organisasie.
"Ons probeer geld insamel om op 17 Desember ten minste 1 500 kinders en 500 senior burgers te bedien met 'n ordentlike Kersete."
Die organisasie deel die afgelope drie jaar Kersfeespakkies uit aan ongeveer 1 000 kinders, maar besef dat dit nie heeltemal die Kersgevoel skep soos 'n partytjie en ete sou nie.
"Die beplanning is om 'n markiestent te huur waarin ons vanjaar 'n ete wil aanbied," brei Sam uit.
Tans verskaf die organisasie weekliks 'n maaltyd aan 2 500 mense bestaande uit senior burgers, kinders en gesinne.
Danksy die naweek se suksesvolle poging, meen Sam, gaan gepoog word om hierdie frekwensie na drie maal per week op te stoot.
"Ons probeer weekliks warm etes bedien in drie woonbuurte van Mosselbaai. 'n Gedeelte van die geld sal hiervoor aangewend word."
Verskeie munisipale raadslede, onder andere die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé en sy vrou, Riette het ook die ontbyt bygewoon.
Kotzé het tydens 'n stratgiese sessie met die raad en ander bestuurslede van die munisipaliteit die MAD- oftewel Make a Difference-veldtog bekendgestel.
Hy het in terugvoering op sy burgemeestersblad op sosiale media, die Mossel Bay Community Soup Drive bedank dat hulle ook by die veldtog ingeskakel het deur middel van hulle projekte.
Die D'Almeida-gemeenskapsaal was tot kapasiteit gevul. Foto: Julian Scholtz
'n Gemoedelike atmosfeer het in die algemeen geheers.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'