In die mees onlangse een het 'n bejaarde man van Glentana, wat Sondag laatmiddag sowat 50m ver by Die Heuwel-uitkykpunt in Groot-Brakrivier geval het, nie net die val oorleef nie, maar ook die nag se ontberinge oorkom deurdat hy eers 16 ure ná die val, toe-vallig deur 'n stapper opgespoor is.
Volgens die woordvoerder van die Groot-Brakrivier SAPD, Konst Chantel Marais, het die 75-jarige mnr Jakobus Visagie op Son-dag, 30 September met sy fiets op 'n roete by Die Heuwel gery toe hy ongeveer 18:00 by 'n uitkykpunt wou stop. Hy het gerem, waarna hy glo bo-oor die fiets geval en toe 50m ver na benede gerol het.
Mnr Johannes Moolman, 'n inwoner van die omgewing, het op Maandagoggend om 10:00 op 'n beseerde Visagie afgekom toe hy daar gaan stap het.
"Ek was Maandag met verlof en het op die wandelroete gaan stap toe ek hom gewaar het. Ek het eers gedink hy het 'n hartaanval gehad, maar hy het met my gepraat en gesê hy het van bo af geval."
Volgens Moolman het die beseerde 'n selfoon by hom gehad, 'maar die battery was pap'.
"Sy stem was hees soos hy heelnag om hulp geroep het."
Mnr Visagie het na wat verneem word 'n papier en pen by hom gehad, waarop hy al sy vorige fietsroetes aangeteken het, en waarop heelonder geskryf gestaan het: "18:00 val van krans af, help!". Moolman het die Groot-Brakrivier SAPD gekontak wat spoedig op die toneel was.
Die Suid-Afrikaanse Rooikruis AMS, sowel as Metro Nooddienste is na die gebied uitgeroep. Die vlieënier van die helikopter, mnr Stefan Rossouw, sê die feit dat die beseerde na die voetpad gekruip het waar nood-dienspersone hom maklik te voet kon bereik, het die operasie vergemaklik.
"Daarna is hy gestabiliseer, waarna hy in die helikopter opgehys is." Visagie is na die George Provinsiale Hospitaal geneem.
Die woordvoerder van die Wes-Kaap Gesondheidsdepartement, mnr Darren Francis, sê die pasiënt het wonderbaarlik slegs verskeie kneusplekke en klein snyplekke aan sy arms en kop opgedoen. Hy het gesê Visagie is op Woensdag, 3 Oktober ontslaan.
Die Mossel Bay Advertiser kon teen druktyd, na verskeie pogings, nie kontak met mnr Visagie maak nie.
• In nog 'n voorval op Vrydag, 28 September, is 'n 51-jarige vrou, me Pauline Jansen van Klerksdorp, tydens 'n driedag fietstoer in Oudtshoorn beseer toe sy in die omgewing van Vergelegen geval en kopbeserings opgedoen het.
Sy is na die naaste hospitaal geneem, waarna sy na die Life Bay View Hospitaal in Mosselbaai oorgeplaas is. Sy is Vrydagmiddag in dié hospitaal oorlede.
• Die Groot-Brakrivier SAPD ondersoek 'n saak van strafbare manslag en dronkbestuur nadat 'n 38-jarige fietsryer, Donavan Mondo, op Vrydagaand, 28 September, in Amy Searlstraat in Groot-Brakrivier deur 'n voertuig raakgery is. Mnr Mondo het aan sy beserings beswyk. 'n Verdagte is op die toneel gearresteer.

Mnr Visagie het slegs enkele meter van die water te lande gekom.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS