MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se brand- en rampbestuursdiens het om 11:15 die eerste oproep oor die brand in die Hartenbos Heuwels-omgewing ontvang. Presies een minuut later was die brandbestryders op pad en om 11:25 was hulle op die toneel. Toe het die brand, wat skynbaar tussen Menkenkop en Hartenbos Heuwels ontstaan het, reeds tot by Boekenhoutstraat in die Heuwels gevorder.
"Toe die eerste brandbestryders op die toneel kom was die wind uit 'n noordelike rigting tussen 60km/h en 80km/h. Later het dit verander en uit 'n westelike, toe 'n suidelike rigting gewaai. Dit het die brande, rook en vlamme aangevuur en verskeie brandvingers het vinnig ontstaan," sê Joseph Johnston, hoof van Mosselbaai brand- en rampbestuur.
Die brandbestryders moes lewens, 1 000 huise en die omgewing van die vlamme red en Johnston sê die ervaring van brande in 2009 het handig te pas gekom.
"Ek het beheer van die brand geneem en onmiddellik alle brandbestryders van Mosselbaai ontplooi. Tegelyk is lugsteun onmiddellik bekom en 'n spotter-vliegtuig asook 'n helikopter van Working on Fire se hulp is ingeroep. Daarbenewens is die ervaring van Kobus Crous van Mossel Bay Helicopters ook opgekommandeer," berig Johnston. Hy het ook die hulp van George-munisipaliteit se brandweer asook die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ingeroep. Ook die brandbestryders van Groot-Brakrivier is ontplooi.
Hy sê die sukses van die wyse waarop die brand bestry is, kan toegeskryf word aan die feit dat die brandweer van meet af aan met volsterkte ontplooi is.
Slegs drie huise
Die twee huise wat tydens die brand op Maandag, 21 Januarie in die slag gebly het, bring die totaal aan huise wat die afgelope 10 jaar weens veldbrande afgebrand het, op slegs drie te staan.
Johnston sê die brandbestrydingspoging het beide uitdagings en lesse meegebring.
"Ná die brand, omstreeks 21:00 die aand het die span nabetragting gehou en die feit dat twee huise verloor is, het die brandbestryders diep geraak. Mosselbaai se brandbestryders is meer as uitsonderlik (beyond exceptional). Hulle is trots op hul werk, en werk met passie. Berading sal vir die personeel gereël word."
Johnston voeg by dat effektiewe kommunikasie met die helikopters asook deeglike koördinering 'n groot bydrae gelewer het in die sukses waarmee die brand binne net meer as vier uur geblus is.
Een van die twee huise wat op Maandag, 21 Januarie in die brand verwoes is.
Foto: Thys Giliomee
"Die toewyding van almal wat betrokke was, personeel, buurtwaglede, die polisie, die DBV asook inwoners was 'n belewenis. Kobus Crous moet uitgesonder word. Sy helikopter het op 'n stadium probleme gegee en hy moes onttrek om herstelwerk te laat doen. Om 20:00 die aand, nadat die probleem uitgesorteer is, het hy en sy vrou, Lizelle, verder waterbomme op die knelpunte wat oor was gaan gooi om te verseker dat geen risiko oornag in 'n probleem ontaard nie. Dit is toewyding, dít is passie."
Samewerking
Die feit dat brandweerwaens nie nodig gehad het om die munisipale watertoevoer te gebruik vir water nie, maar kon staatmaak op water wat deur Henra, OSS en Transand aangery is, het meegebring dat die waterdruk in Hartenbos Heuwels sterk genoeg was sodat inwoners met tuinslange kon help om infrastruktuur nat te hou.
"Die munisipaliteit het die waterdruk na die Heuwels verhoog deur die druk in Hartenbos te verlaag om seker te maak alle moontlike water is vir die bestryding van die brand beskikbaar."
Johnston sê wanneer die brandweer van die munisipale watertoevoer gebruik moet maak in brande van hierdie omvang, bestaan die gevaar dat die toevoerpype kan beskadig.
"Ek het nie die opdrag gegee dat mense moet ontruim nie omdat ons juis inwoners op hul erwe nodig gehad het. Mense wat tuine kon nat hou, wat ons kon inlig as probleme ontstaan soos wanneer vonke oor groot afstande brande stig, en wat hul bure van hulp kon wees."
Hy voeg by dat paniek hul werk bemoeilik en beplan deeglike opleiding vir alle rolspelers wat kan bydra om lesse wat uit hierdie brand geleer is te kan toepas.
"Dit sal raadsaam wees as paaie eerder met kegels toegemaak word om mense wat nie nodig het om die area te besoek nie, te keer. Mense het op plekke hul voertuie vir die doel dwars in die pad geparkeer, wat meegebring het dat brandweerwaens nie verby kon kom nie."
"Dit is weer eens bewys dat dit nodig is om hoë risiko areas deeglik te ken. Moet niks as vanselfsprekend aanvaar nie en konsentreer deurentyd op areas waar die grootste gevaar bestaan. Bestuur die paniek. Mense neem ons kwalik omdat die brandweer nie op hul individuele oproepe reageer het nie. Daar is 1 000 huise, dit is onmoontlik om by elke huis 'n brandspan te hê. Lewens eerste, dan eiendom en dan die omgewing, dit is die prioriteite," sê Johnston.
"Die brandbestryders het beter as hul beste presteer. Die span is werklik geraak deur die verlies van twee eiendomme, vir professionele brandbestryders wat met soveel passie en trots en selfopofferend optree, was dit twee te veel. Ek is trots op my span."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'