MOSSELBAAI NUUS - Op Donderdag, 1 Maart, het inwoners wat aandring op huise in Walvisstraat bo De Bakke amok gemaak, paaie geblokkeer met klippe en selfs Louis Fourieweg geblokkeer deur buitebande te brand.
Boonop het die amokmakers gedreig dat, as daar nie aandag aan hul griewe gegee word nie, Louis Fourieweg onbegaanbaar gemaak sal word ten tye van die groot Buffalo Rally wat binnekort op Mosselbaai aangebied sal word.
Die onrus het gevolg nadat inwoners onder die indruk was dat sommige begunstigde huishoudings reeds op 1 Maart hul nuwe huise in hierdie ontwikkeling sou kon betrek.
Dit blyk egter dat die kontantvloeiprobleme van die betrokke kontrakteur daartoe gelei het dat die programskedule agterstallig geraak het.
'n Vergadering op Vrydag, 2 Maart, tussen die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en die relevante munisipale amptenare met die gegriefde inwoners, is daarin geslaag om gemoedere te kalmeer, en is die onderneming gegee dat 'n opvolgvergadering op 15 Maart met die gemeenskap meer inligting oor die vordering met die projek sal vervat.
Dit blyk uit munisipale kommentaar dat die kontrakteur, wat heelwat ander projekte in die groter Mosselbaai-omgewing met groot welslae afgehandel het, in hierdie geval nie by spertye gehou het nie ondanks herhaalde pogings deur die munisipaliteit om kontrakspesifikasies af te dwing.
Volgens planne wat die kontrakteur wat verantwoordelik is vir die vestiging van grootmaatdienste voorgehou het, sou die werk reeds voor die aanvang van die bouersvakansie in Desember verlede jaar afgehandel gewees het.
Dit sou die onafhanklike kontrakteur wat die huise in die Walvisstraatontwikkeling moet oprig, ruim geleentheid gegee het om met die bouwerk van die sowat 156 huise te begin.
Op Donderdagaand, 1 Maart het gegriefde inwoners van JCC/Asazani infrastruktuur en bosse in die omgewing bo De Bakke aan die brand gesteek. Louis Fourieweg was vir 'n wyle vir verkeer gesluit.
Na verwagting sou van die finale huise reeds vroeg vanjaar afgehandel gewees het.
Dit blyk egter nou dat die eerste huise eers met ingang 2019 afgehandel sal kan wees.
Teen einde November verlede jaar het die munisipaliteit en die betrokke kontrakteur ooreengekom dat addisionele personeel beskikbaar gestel sou word om die agterstallige werk aan die Walvisstraatontwikkeling in te haal.
Die kontrakteur het sedertdien by herhaling gewysigde beplanning voorgelê om die munisipaliteit te oortuig dat die werk binne die gestelde raamwerk afgehandel sou wees, maar uiteindelik het dit geblyk dat die kontrakteur weens finansiële redes nie die kontrakverpligtinge of projekwysingsplanne sou kon nakom nie.
Infrastruktuur van nuwe grootmaatdienste wat in die Walvisstraat-omgewing geïnstalleer word, is tydens gemeenskapsonrus in JCC/Asazani vernietig.
Meer as 70%
"Meer as 70% van die projek om grootmaatdienste soos riolering, watervoorsiening en paaie te voorsien, is reeds voltooi," berig die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
"Die munisipale bestuurder het die burgemeesterskomitee reeds ingelig dat hy deur sekere afwykings 'n bourekenaar en kontrakteur sal moet aanstel om die projek te voltooi.
"Na raming sal die eerste huise vroeg in 2019 afgehandel kan wees."
Dieselfde groep gegriefde inwoners van JCC/Asazani het op 29 Mei verlede jaar 'n optog na die munisipale kantore gehou om 'n griefskrif aan die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal te oorhandig.
By daardie geleentheid het die inwoners gevra dat munisipale dienste soos elektrisiteit voorsien moet word.
Gegriefde inwoners het paaie versper deur klippe op die ryvlak te pak. Wetstoepassers het die klippe verwyder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'