MOSSELBAAI NUUS - Groot opgewondenheid heers by die KwaNonqaba-polisiestasie waar planne vorder om op eie inisiatief die kantore van die ondersoekeenheid op te knap.
‘n Nuwe bevelvoerder, kapt Ashleigh Michaels het onlangs by die span ondersoekbeamptes aangesluit. Sy het onmiddellik begin om die haglike werksomstandighede van die personeel aan te spreek.
Een van die grootste knelpunte was die gebrek aan behoorlike ablusie vir die personeel. Hoewel daar een toilet vir die totale speurspan in die kantore van die ondersoekeenheid beskikbaar is, het ‘n deur ontbreek.
Vroeg Donderdagoggend, 21 September het Chris Horn van New Look Kitchens & Cupboards en sy span by die kantore opgedaag en begin om die nuwe deur te hang.
Chris het sy maatskappy onlangs in Mosselbaai gevestig en het onmiddellik positief reageer toe hy van die benarde situasie by die polisiestasie hoor.
Die ondersoekspan gaan Maandag moue oprol en met die hulp van borge die enorme taak aanpak om hul werksarea meer leefbaar te maak. Verskeie borge, onder meer die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-gemeenskapsprojek, het verf geskenk en die polisielede gaan, so tussen die vleisbraai deur die kwaste laat werk.
“Ons nooi die gemeenskap om Maandag saam met ons te kom kuier. Enige verdere hulp in die vorm van kwaste, verfpanne, selfs toerusting sal baie waardeer word. Kom loer in en leer ken die mense wat verantwoordelik is om die misdade op te los wat in die grootste geografiese area van die groter Mosselbaai gepleeg word. Kom verleen gerus hulp om hul werksomstandighede, wat alreeds baie moeilik is, te vergemaklik deur die kantore en terrein op te knap,” aldus Kapt Michaels.
Die Mossel Bay Advertiser het by herhaling reeds berig oor die afgeleefde, onaanvaarbare omstandighede waarin die lede van die KwaNonqaba-polisiestasie moet werk. Selfs die tussenkoms van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee, kon nie die departement van openbare werke motiveer om hul kontraktuele verpligtinge na te kom om die polisiestasie op te knap nie. Die perseel word van die Mosselbaai munisipaliteit gehuur, maar kontraktueel is die departement openbare werke verantwoordelik vir die instandhouding van die fasiliteite.
Weens massiewe gate in die omheining word geredelik, wederregtelik toegang tot die perseel bekom en word eiendom op die terrein deur misdadigers geteiken. Voertuie se batterye en spaarwiele is in die verlede gesteel. Onlangs het kriminele die ruit van een van die tydelike kantore waarin die ondersoekeenheid gehuisves word, gebreek om toegang te kry en is ‘n skootrekenaar gebuit.
Coetsee en Clayton Mpheroane wat namens New Look Kitchens & Cupboards van mnr Chris Horn vroeg Donderdag die harde werk gedoen het om ‘n deur vir die enigste toilet in die ondersoekeenheid van die KwaNonqaba-polisie te installeer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'