MOSSELBAAI NUUS - Kort na 'n rioolstortingsvoorval op Woensdag, 4 Oktober, het dieselfde rioollyn by Blue Waters op Vrydagmiddag weer munisipale werkers tot laataand laat swoeg om vullis, wat vermoedelik opsetlik in die rioollyn gestort is, te verwyder.
Ondanks die ondankbare werk, het sowat 12 munisipale personeel gespook om rommel, wat onder meer klippe groter as bakstene, kombuisware, plastieksakke en ander materiaal uit die pyp te verwyder.
Ongeag die oortydwerk op 'n Vrydagaand en die onwelriekende aard daarvan, het die personeel die werk glimlaggend en in 'n goeie gees hanteer.
Toe die Mossel Bay Advertiser omstreeks 19:00 op die toneel kom, was Mosselbaai se munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee, reeds geruime tyd teenwoordig om sy personeel te ondersteun, ongeag die feit dat hy amptelik met verlof was.
Die verstopping is Vrydag tydens 'n roetine-ondersoek deur personeel opgemerk, wat onmiddellik stappe geneem het om dit op te klaar.
'n Kontrakteur het masjienerie beskikbaar gestel waarmee water onder hoë druk tussen twee rioolputte in die pypleiding gebruik is om die verstopping los te kry. Personeel moes fisies met grawe die vullis uitgrawe en emmervragte vol daarvan uit die pyp verwyder. 'n Brandweerwa is ingespan om die nodige water vir die hoëdrukspuit te voorsien.
By die een rioolput was hope rioolslyk en gemors opmerklik wat vroeër weens die verstopping uit die rioolput oorstroom het. Hiervan, asook van die onverwerkte rioolwater het in 'n stormwatersloot, wat in die see uitmond, beland. Die munisipaliteit het onmiddellik met kalk en bio-afbreekbare ontsmettingsmiddels die watersloot en strand voorkomend behandel en sal Saterdag verdere afvloei monitor en behandel, indien nodig.
Veral problematies, was gebruikte ou-tipe skeermeslemmetjies wat in die vullis opgemerk is, wat die skoonmaakwerk vir die personeel lewensgevaalik maak.
"Dis kommerwekkend dat die rioollyn, wat riool vanaf Mosselbaai-dorp, JCC, asook Uitbreidings 26 en 8 na pompstasies stroomaf gelei so gereeld verstop. 'n Beroep word op die gemeenskap gedoen om toe te sien dat vaste afval soos klippe, plastiek, lap en ander rommel nie in die rioolpypleiding beland nie," aldus adv Giliomee.
Vrydag se voorval volg op 'n verstopping om omstreeks 09:30 op Woensdagoggend, 4 Oktober toe die munisipaliteit by dieselfde area ook 'n verstopping in die pypleiding moes verwyder en die area moes ontsmet.
Hoewel amptelik met verlof, was Mosselbaai se munisipale bestuurder, Adv Thys Giliomee reeds besig om die personeel by te staan toe die Mossel Bay Advertiser die toneel omstreeks 19:00 besoek het.
John Fitzgerald van die munisipaliteit verduidelik die werking van die hoëdrukwaterpyp se kopstuk wat gebruik is om die verstopping te ontsetel.
Emmers vol gruis en klippe groter as bakstene is onder meer uit 'n pypleiding met 'n deursnee van sowat 50cm verwyder. Hierbenewens is plastieksakke, lap, kombuisgereedskap en ander metaal, selfs ou lemmetjies uit die rioolput verwyder.
Ongeag die ondankbare werk om 'n rioolput te staan en vullis wat die pyp verstop uit te skep, is die werk deur almal na ure en met breë glimlagte gedoen.
Munisipale personeel en kontrakteurs werk onverpoos op Vrydagaand, 6 Oktober om 'n verstopping in die rioolnetwerk by Blue Waters op te klaar. Die grootte en deursnee van die betrokke ondergrondse pyp waarin die verstopping voorgekom het, is soortgelyk aan die pyp sigbaar op die foto.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'