MOSSELBAAI NUUS - 'n Geldinsamelingsprojek is van stapel gestuur vir Tersia Marais, bekende vryskutfotograaf van die Mossel Bay Advertiser en direkteur van die marinebewaringsgroep, Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.).
Na 'n onlangse ligte beroerte is onder meer Tersia se spraak aangetas.
Vir meer as drie jaar was sy die stem vir die stemloses; die een wat met omgee en deernis na seediere in nood omgesien het, deur 'n netwerk van vrywilligers saam met dr Frans de Graaff en raadslid Anton Dellemijn tot stand te bring vir seediere wat hulp nodig het, omgegee.
Omgee
Nou het Tersia hulp en omgee nodig. Sy word steeds in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad behandel. Sy is baie helder van verstand, maar haar spraak is aangetas en sy sukkel om te skryf. Kommunikasie is gevolglik 'n groot frustrasie.
Hoewel sy in die staatsfasiliteit gratis behandeling ontvang, is die finansiële uitgawes ná ontslag 'n uitdaging. Uitgawes verbonde aan veral haar rehabilitasie en daaglikse voortbestaan wek 'n wesentlike kommer. As vryskutjoernalis beskik sy nie oor 'n vaste inkomste nie. Boonop versorg sy haar vyfjarige kleinkind.
Skarebefondsing
'n Jarelange vriendin, Denise Lloyd, het 'n skarebefondsingsinisiatief op die webblad backabuddy van stapel gestuur waar die gemeenskap enige bydrae waartoe hul geroepe voel op 'n wettige manier tot haar rehabilitasie en herstel kan maak.
Om meer oor hierdie inisiatief te wete te kom en om 'n bydrae te maak, besoek gerus https://bit.ly/2M0bbIy
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'