MOSSELBAAI NUUS - Die vakansieseisoen is om die draai. Soos elke jaar maak die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) gereed vir 'n stygende getal troeteldiere wat tydens die feesseisoen deur hul eienaars verwaarloos word.
Jaarliks, en veral oor nuwejaar het die personeel hul hande vol met troeteldiere wat op straat beland of nie die nodige liefde en sorg tuis ontvang nie.
In die lig daarvan dat die DBV op Mosselbaai ook verskeie honde en katte het wat op aanneming wag, het ek en my gesin besluit om 'n katjie in die naam van liefdadigheid aan te neem, hoewel ons reeds 'n volwasse kat en 'n Golden Retriever het.
Ons het die besluit vir etlike maande oorweeg. Daar is 'n aantal vrae wat elke voornemende troeteldiereienaar behoort te vra. Kan jy dit bekostig om 'n dier aan te hou? Gaan jy genoeg tyd en aandag aan jou nuwe troeteldier gee? Wat is die rede vir die aanneming en sal die nuwe dier in jou huishouding se omstandighede inpas?
Tylah, die Golden Retriever en Kai deel 'n spesiale oomblik.
Aanneming
Ons het die DBV op Mosselbaai besoek. Die hokke was skoon en met speelgoed toegerus. Die diere, goed versorg. Die DBV-personeel was behulpsaam en het ons tyd gegun om ons keuse te maak.
Ons het op 'n mannetjieskat, wat ongeveer sewe weke oud was, besluit.
Daarna het die DBV eers 'n huisbesoek afgelê. Die hele proses het skaars twee dae geneem. Tydens die besoek het hulle ons ander troeteldiere ontmoet en inspeksie van ons huis en erf gehou. Ons was aangenaam verras met die flink diens wat ons ontvang het.
Kort daarna het ons 'n oproep van die DBV ontvang waarin hulle ons in kennis gestel het dat ons die nodige papierwerk kan voltooi en dan ons nuwe kat huis toe mag neem.
Om 'n troeteldier by die Dierebeskermingsvereniging aan te neem kan vir almal bevredigend wees. Hier vat Kai 'n middagslapie.
Nuwe kat
Die aanneming het R750 gekos. Dit sluit die sterilisering van die kat wanneer hy die geskikte ouderdom bereik in, asook die inplanting van 'n mikroskyfie.
Ons nuwe kat se naam is Kai. Dit beteken see. Hy het binne twee dae by ons ander diere aangepas, hoewel hy aanvanklik vir hulle bang was.
Ons het vir hom katpilletjies, asook sagte kos gekry. As 'n bederf het ek vir hom hoender gekook en dit in klein stukkies gesny.
Kai het intussen ons huishouding oorgeneem en ons kan nie wag om in die middae na skool en na werk met hom te speel nie. Hy is lewendig en het 'n nuwe dinamika gebring.
Dit is ook lekker om te weet dat ons tot die welsyn van 'n dier, wat andersins moontlik nie 'n huis sou kry nie, kon bydra.
Ek kan 'n aanneming by die DBV beslis aanbeveel. Doen egter eers selfondersoek sodat die aanneming nie op 'n mislukking uitloop nie.
Wees ook versigtig om vir iemand 'n troeteldier as geskenk te gee. Dit is iets wat elke huiseienaar self moet oorweeg en verantwoordelikheid voor moet neem.
Kai het die hele Karsten-huishouding op horings geneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'