RIVERSDAL NUUS - Die landbouskool se matriekklas van 2017 het voortgebou op die tradisie van 'n 100% slaagsyfer oor die afgelope 20 jaar.
Die klas van 73 leerders het bygedra tot die 100% slaagpersentasie vir die 21ste agtereenvolgende jaar.
Dit was 'n opgewonde groep skoolverlaters wat hul uitslae op Vrydag 5 Januarie by die skool afgehaal het. "Die kameraderie en samehorigheid tussen die Oakdalers was opnuut sigbaar toe die 11 leerders wat 'n gemiddelde A-simbool verwerf het, bekend gemaak is. Die gedeelde vreugde was veral merkbaar toe Russell Pratt as die toppresteerder met 'n gemiddelde presentasie van 93,8% aangekondig is," sê André Latsky, skoolhoof.
Afgesien van die 11 gemiddelde A-simbole het 57 leerders (78,1%) ook matriekulasievrystelling verwerf. Die personeel is veral ook beïndruk met die 18 gemiddelde B- en 30 gemiddelde C-simbole wat verwerf is. 'n Totaal van 101 A-, 136 B-, en 149 C-vakgemiddeldes is behaal. Die vakgemiddeldes dui op akademiese uitnemendheid. Ses vakke behaal vakgemiddeldes hoër as 70%, 7 vakke hoër as 60% en 2 vakke bo 50%.
"Die personeel van Oakdale verdien saam met die matriekklas van 2017 lof vir harde werk en entoesiasme. Ons is veral baie bly oor die 100% slaagsyfer, maar ook opgewonde oor die pragtige vakprestasies. Die 10 A-simbole in wiskunde, 9 in fisiese wetenskap, 18 in Engels eerste addisionele taal en 12 in Afrikaans huistaal het bygedra tot volgehoue sukses."
Die sukses van 2017 se matriekklas is in die sakkie en nou begin die harde werk opnuut met die klas van 2018 met nuwe uitdagings en nuwe doelwitte. Oakdale sien saam met entoesiastiese personeel, leerders en die ouergemeenskap uit na 2018.
Die klas van 2017 word sterkte toegewens met die uitleef van hulle verwagtinge en toekomsplanne.
Oakdale se toppresteerders
Russell Pratt - 93,8% met 8 onderskeidings, Koos Botha - 93,2% met 8 onderskeidings, Nehan Pretorius - 90,6% met 8 onderskeidings, De Wet Denkema - 90,3% met 8 onderskeidings, Coenie Blignaut - 88,3% met 7 onderskeidings, Pierre Blignaut - 87,8% met 7 onderskeidings, Zandré Theron - 87,8% met 7 onderskeidings, Ryno van Wyk - 87,3% met 6 onderskeidings, Luan Lategan - 84% met 5 onderskeidings, Willie Viljoen - 81,3% met 4 onderskeidings en Jurie Wessels - 81,3% met 3 onderskeidings.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Tuinroete, Karoo nuus'