MOSSELBAAI NUUS - Die Icosa-sitplek in die raad in Mosselbaai word nou deur 'n nuwe gesig gevul - raadslid Nadia Krige.
Dié plek het tot onlangs aan Dawid Kamfer behoort. Krige is by 'n publieke raadsvergadering op 30 November as Kamfer se plaasvervanger aangekondig.
Dit volg ná die munisipaliteit op 7 November 'n brief van Icosa ontvang het wat verklaar dat Kamfer nie meer 'n lid van Icosa is nie.
Die verwikkeling vorm deel van binnegevegte wat tans in Icosa plaasvind - die gevegte gaan nou in die hof draai. Aan die een kant is Kamfer, die provinsiale leier van die party (wat ook as interimleier deur sy groep aangewys is) wat, volgens hom vir Jeffrey Donson, Kannaland-burgemeester, as president van Icosa geskors het. Op sy beurt, het Donson vir Kamfer ook geskors.
Dit is nou juis dié saak oor die afsonderlike skorsings wat nou in die hof beslis gaan word wanneer Icosa se "tweeling", Kamfer en Donson, mekaar vandag (8 Desember) in die hof die stryd aansê.
Intussen gaan die geveg op grondvlak voort.
"Slegs drie uit die 27 lede van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wil die party oorneem. Dit kan ongelukkig net by 'n kongres gedoen word. So my sogenaamde skorsing is onwettig. Ons kongres word die 8ste en die 9de Desember gehou waar nuwe leierskap gekies word volgens Icosa se grondwet," het Donson gesê.
'Nie train smash nie'
Te midde van sy verwydering vanuit die raad in Mosselbaai het Kamfer gesê "dit is nie 'n train smash nie".
"Die reg moet sy gang gaan. Die NUK waarvan Donson praat bestaan nie. Wat ons betref is Donson geskors. Die hof sal beslis wie reg of verkeerd is. Ons hou op 10 Desember op Ceres vergadering waar die hofsaak bespreek sal word," het Kamfer gesê.
Na Krige se aanstelling het Icosa voorsitter in Mosselbaai en omliggende areas, Bronwrick Benjamin, gesê hy is teleurgesteld oor die aanstelling en dat dit nie in die beste belang van die inwoners is nie.
Ook dat Krige van die Langkloof af is en die stoel haar nie beskore is nie. "Meneer Kamfer moet die stoel inneem, want dit is die mense se besluit."
Krige het gesê sy is oorspronklik van Mosselbaai.
"Ek het skoolgegaan daar. Ek was op pad om te trek Mosselbaai toe, toe het hierdie geleentheid homself voorgedoen, so ek sal maar net die beste doen wat ek kan doen. Dit is al wat 'n mens nou kan sê, en dit is om die beste besluite te neem vir Mosselbaai en Mosselbaai se mense. Dit is rêrig vir my 'n eer om deel te wees van die raad en ek sien uit om te leer."
Krige sal dan ook posisies beklee op komitees waarop Kamfer voorheen gedien het.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het op 'n navraag van Oudtshoorn Courant, susterskoerant van die Mossel Bay Advertiser, soos volg geantwoord: "Volgens die huidige rekords van die OVK is Jeffrey Donson die partyleier van Icosa en is Dawid Kamfer nie meer 'n Icosa-raadslid in die Mosselbaai munisipale raad nie."
Dawid Kamfer en Jeffrey Donson in gelukkiger tye.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’