MOSSELBAAI NUUS - Vyf Wolwedans-gesinne wie se lewens weens 'n vermoedelike grondglip ontwrig is, kan daarna uitsien om eersdaags weer 'n permanente heenkome van hul eie te hê.
Mosselbaai-munisipaliteit was genoop om vyf huise in Wolwedans, Groot-Brakrivier, te laat sloop nadat die erwe waarop dit gebou was vir sowat vier jaar gemonitor is.
Die huise in die Wolwedans-ontwikkeling is destyds deur die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings opgerig, sommige op erwe wat redelik styl is. Nadat klagtes ontvang is, het die munisipaliteit en die betrokke provinsiale departement besluit om die inwoners in tydelike huisvesting te akkommodeer en die betrokke vyf huise te sloop. Sedertdien is ooreengekom dat 'n geotegniese verslag aangevra sal word, en het die provinsiale regering 'n professionele ingenieur aangestel om volledige navorsing na en monitering van die spesifieke area te doen.
"Volgens 'n ondersoek na ooglopende gebreke blyk dit dat die huise in die onmiddellike omgewing van die gesloopte huise nie soortgelyke probleme ondervind nie," berig die munisipale woordvoerder, Colin Puren. Die provinsiale regering befonds die oprigting van die vyf nuwe eiendomme teen 'n beraamde koste van R930 000 op erwe wat deur die munisipaliteit beskikbaar gestel is. Die munisipaliteit sal steeds die gewone munisipale dienste op die nuwe erwe verskaf.
Erika Michaels, wat oorkant die area woon waar vyf huise weens 'n vermoedelike grondglip gesloop is, het die geleentheid gebruik om 'n woordjie met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, die wyksraadslid, raadsheer Cliffie Bayman en munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee te wissel.
Die burgemeestersgroep het ook die grond wat bestem is vir sommige van die nuwe huise besoek.
Infrastruktuur vir grootmaatdienste en munisipale dienste wat die munisipaliteit aan inwoners van die nuwe huise sal voorsien, is reeds beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'