MOSSELBAAI NUUS - Luitenant-kolonel Eddy Williams is so bedrywig saam met sy span as nuwe hoof van visuele polisiëring by die Da Gamaskop-polisiestasie, dat hy nog kwalik 'n bekendstellingsonderhoud met die Mossel Bay Advertiser kon hê.
Vandeesweek het die Advertiser met hom kon gesels oor sy agtergrond, misdaadtendense en sy vooruitsigte.
Williams is 'n boorling van George en vier op 23 Julie, 33 jaar diens in die polisie.
"Ek het jonk aangesluit en kom uit 'n familie van polisiemanne," vertel hy. Hy het sy loopbaan op Plettenbergbaai begin en is daarna na Hermanus.
Op 1 Februarie vanjaar, het hy diens opgeneem by Da Gamaskop, die stasie waar sy oorlede broer ook voorheen gedien het.
Williams is deeglik onderleg in elke faset van visuele polisiëring.
"Ek het omtrent elke kursus wat daar is gedoen en het gewerk in kommunikasie, die hof, by die skofte, met vuurwapens, misdaadvoorkoming en selfs diens gedoen tydens die omstandighede rondom die destydse Boipatong-slagting."
Passie
Williams noem egter dat hy 'n besonderse passie het vir die bekamping van geslagsgebaseerde en huishoudelike geweld.
"Ek wil mense dit op die hart druk dat hulle hierdie misdade moet rapporteer. Selfs as dit by jou bure gebeur, kan jy namens hulle aansoek doen om 'n beskermingsbevel. Die wet maak voorsiening daarvoor."
Williams het uitgestip dat die Da Gamaskop-polisiestasie lede van die publiek met die bekom van 'n beskermingsbevel kan bystaan.
"Mense hoef nie noodwendig hof toe te gaan nie. Ons kan hier help met die hele proses. Ons het ook 'n koördineerder wat spesifiek werk met voorvalle van huishoudelike geweld wat van hulp kan wees."
Middelafhanklikheid bekommer hom ook en hy is vasberade om hierdie probleem aan te spreek deur verskeie inisiatiewe.
"Tans, het ons ook 'n probleem met handel in skrootmetaal. Mosselbaai dra by tot die provinsiale statistiek en dit sal moet aandag kry."
Bestuurstyl
Hy verduidelik dat sy bestuurstyl daarop gerig is om samewerkend en inklusief te wees wat interne en eksterne strukture betref.
"Ek eien my nie my ervaring toe nie. Ek deel dit graag met lede van my span en ek luister graag na hulle insette."
Hy sê hy sien altyd kans vir 'n uitdaging indien dit oor misdaad gaan en glo dat samewerking met alle strukture en organisasies die pad is na effektiewe misdaadvoorkoming.
Williams glo in die belangrikheid daarvan om te kan kommunikeer met elke groep binne die gemeenskap wat die polisie dien.
"Ons moet met mense op gelyke vlak kan kommunikeer en hulle bemoedig. Ons moet ten alle koste positief bly in die stryd teen misdaad en glo dat daar lig aan die einde van die tonnel is."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'