MOSSELBAAI NUUS - Pas nadat die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal tot die amp verkies is, het hy 'n nuwe projek, Caring and Cohesion, van stapel gestuur. "In elke wyk sal 'n bedrag beskikbaar gestel word om reg te maak wat verkeerd is," het Raadsheer Levendal belowe.
Onlangs het die gemeenskap van Herbertsdale by hierdie projek gebaat toe die wyksraadslid, raadslid Barnie Groenewald 'n splinternuwe brandbestrydingswaentjie oorhandig het.
Dit volg op soortgelyke toerusting wat ook aan ander landelike gemeenskappe oorhandig is.
“Ek bedank ons uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal vir die vergunning wat dit moontlik gemaak het om hierdie toerusting tot beskikking van die Herbertsdale-gemeenskap te stel. Die landelike gemeenskappe lê my baie na aan die hart, soos ook vir die burgemeester, en dit is ‘n voorreg om in hul welstand te kan belê,” het raadslid Groenewald tydens die oorhandiging gesê.
"Hierdie toerusting sal help om die onmiddellike nood te verlig totdat die Mosselbaai Brand, Redding en Rampbestuursdienste op die toneel kan kom. Dit bevat 650 liter water, wat aansienlik vermenigvuldig wanneer die skuim bygereken word. Die toerusting sal bedryf word deur die munisipale personeel wat op Herbertsdale woon en is ook tot die beskikking van die plaaslike landbouvereniging," het die hoof van die eenheid, Joseph Johnston gesê. Binnekort volg die nodige opleiding om te verseker dat die toerusting korrek aangewend kan word om vir die gemeenskap beter dienslewering te kan verseker.
Wyksraadslid Barnie Groenewald het onlangs nuwe brandbesrydingsapparaat aan die gemeenskap van Herbertsdale oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'