Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Ekologiese ramp ontvou op Mosselbaai se strande en die inwoners is meestal apaties.
Onkunde oor die rampspoedige nagevolge van die sogenaamde nurdles (plasiekballetjies) wat tans uitspoel, het tot gevolg dat mense nie die potensiële gevaar daarvan vir die seelewe besef nie.
Wat is nurdles?
Nurdles is klein balletjies rou, onverwerkte plastiek wat gebruik word om verskeie plastiekware te vervaardig.
Hoewel daar gedurende Oktober 'n vragskip met vraghouers vol van hierdie lensiegrootteballetjies in die Durban-hawe omgeslaan het en sodoende KwaZulu-Natal se strande in 'n oogwink in ekologiese rampgebiede omskep het, is daar klaarblyklik ook ander gebeurtenisse op die oop see waartydens die nurdles in die see beland.
Sowat 49 ton van die balletjies het in Durban alleen in die see beland.
Die strande van KwaZulu-Natal het wel die grootste hoeveelheid van die storting ervaar, maar daar het geweldig baie in die Agulhas-stroom beland en hulle spoel al die afgelope maand aan Oos-Kaapse en nou ook op die Suid-Kaapse strande uit.
Die plastiekballetjies is nie bio-afbreekbaar nie en in rou vorm, ook nie giftig nie.
Die gevaar lê daarin dat hulle deur verskeie mariene diere as 'n voedselbron aangesien word en ook met tyd ander giftige bestanddele aantrek.
Dit is veral die mariene diere wat hulle voedsel deur middel van filtreer-voeding inneem wat geaffekteer word.
Die diere wat laasgenoemde eet, se spysverteringstelsels kan dit nie verwerk nie en dit lei tot 'n onnatuurlike en ontydige dood.
Nurdles gaan nie weg nie en word met tyd net kleiner wat veroorsaak dat hulle nog verder skade kan aanrig.
Inwoners en vrywilligers van S.M.A.R.T. het die afgelope tyd met baie geduld en in sterk wind die nurdles op strande opgetel. Hier is 'n groepie op Gouritzmond besig.
Wat kan gedoen word?
Eerstens is dit nodig om die nurdles van strande te verwyder. Dit is geen maklike taak nie en verg baie ure se geduld.
Nurdles spoel met die getye uit waarna dit op die hoogwatermerk tussen ander opdrifsels op die strande lê.
Daar is twee beproefde wyses om dit op te tel:
• Skraap die nurdles bymekaar op die droë sand. Plaas dan met 'n grafie/voorwerp op 'n kombuissif, 'n stuk net of skadunet en skud die oortollige sand uit.
Plaas in 'n emmer water en spoel af. Die nurdles sal na die oppervlak styg en kan dan afgeskep en in 'n aparte houer geplaas word.
• Skraap bymekaar en plaas op skadunet. Vou die net toe en beweeg na die waterkant. Laat toe dat die golwe die sand uitspoel, waarna nurdles in 'n houer geplaas kan word.
Alle nurdles wat opgetel word, moet na versamelpunte geneem word.
Geen produkte moet in munisipale asblikke geplaas word nie, want op hierdie manier beland dit net op 'n ander manier in die ekosisteem.
Versamelpunte in die groter Mosselbaai is die volgende:
- Mosselbaai – Shark Lab Akwarium by die Punt
- Danabaai - Cyber South (Flora Weg 204)
- Groot-Brakrivier – De Dekke Spar
- Gouritz – Koffie Stories (Vir elke 500ml bottel vol "nurdles" word 'n Sondagete gegee)
- Groot-Brakrivier - Die Ou Pastorie (Adel) bied 'n gratis koppie boeretroos vir elke 500ml bottel vol "nurdles"
Dit is hoe die nurdles lyk.
Wat gebeur met die versamelde nurdles?
Alle versamelde nurdles sal deur die departement van omgewingsake verwyder word vanaf die versamelpunte waarna dit of herwin of vernietig sal word.
Genoemde departement is ook in kontak met die Mosselbaai-munisipaliteit en S.M.A.R.T. asook die see- en strandafdeling van omgewingsake wat spesifiek besoedeling hanteer.
Die situasie in Mosselbaai geniet die volle aandag van hierdie rolspelers om die besoedelde areas so spoedig moontlik op te ruim en daar word gehoop dat inwoners ook betrokke sal raak.
Vir verdere navrae of om die nurdles op strande te rapporteer, stuur 'n WhatsApp na 072 227 4715 of besoek gerus S.M.A.R.T. se facebookblad (www.facebook.com/SMARTMosselbay) waar nuwe inligting gereeld beskikbaar sal wees.
ARTIKEL & FOTO'S: TERSIA MARAIS, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'