MOSSELBAAI NUUS - Gedurende die nag van 28 Desember het die NSRI-bemanning van Stasie 15 Mosselbaai, een van die passasierskip Seven Seas Explorer se passasiers wat 'n beroerte gehad het, met die hulp van By Grace-ambulansdienste se paramedici, na veiligheid gebring en na die Life Bay View privaat hospitaal. Die 73-jarige man van Florida, VSA, is later ontslaan.
André Fraser, stasiebevelvoerder NSRI Mosselbaai vertel: "Diegene wat naguile is sal onthou dat die wind die aand en vroegoggend verskriklik gewaai het en deinings was tussen 3 en 4 meter hoog en hoewel ons aan die stil kant van die skip werksaam het, was dit steeds 'n groot uitdaging om hierdie pasiënt en sy vrou, veilig oor te laai van die skip tot op ons 10m reddings vaartuig.
"Dit was probeer, weer probeer en weer probeer totdat ons die oordrag veilig kon uitvoer. Nadat die bemanning en paramedici almal veilig aan boord was, is die pasiënt teruggeneem na die hawe waar die ambulans die pasiënt na die hospitaal vervoer het."
As gevolg van die professionele en uiters veilige uitvoering van hierdie operasie en die feit dat die senior offisiere van die skip die hele proses gevolg het en eerstehands kon sien watter uitdagings die NSRI mee moes reken, het die kaptein gevoel sy wou graag die bemanning vereer met 'n onthaal op die Seven Seas Explorer.
Die NSRI-bemanning is genooi om op 5 Januarie die onthaal by te woon. Die NSRI Nuwejaars Strandwedloop het die oggend eers plaasgevind waarna 14 van die bemanningslede wat betrokke was, die Seven Seas Explorer besoek en uiters gasvry ontvang is asook bedank is vir die wyse waarop die pasiënt hanteer is.
Die NSRI-bemanning van Stasie 15 Mosselbaai, het op 28 Desember een van die passasierskip Seven Seas Explorer se passasiers wat 'n beroerte gehad het, met die hulp van By Grace-ambulansdienste se paramedici, van die boot afgehaal en na veiligheid gebring en na die hospitaal geneem.
As 'n blyk van waardering is 'n replika van die skip aan die NSRI oorhandig. Daarna is die bemanning getrakteer met versnaperings en heerlike koffie en op 'n begeleide toer deur die 12 verdieping skip geneem om die weelde te ervaar.
Fraser het na die tyd gsesê dat dit maar selde is wat mens in NSRI so 'n dankie en klop op die skouer kry maar dit gebeur tog wel. Hy het die kaptein en senior offisiere van die Seven Seas Explorer bedank vir hierdie verering en hulle 'n veilige reis toegewens.
André Fraser, stasiebevelvoerder van NSRI Stasie 15 Mosselbaai ontvang die replika van die Seven Seas Explorer van senior offisiere.
Die pragtige skaalmodel van die passasierskip Seven Seas Explorer wat aan die NSRI Stasie 15 in Mosselbaai oorhandig is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'