Die opleiding is deur Accredited 4 x 4 Training Adventures & Events, die enigste Suid-Kaap gebaseerde geregistreerde maatskappy vir TETA opleiding, aangebied.
Saterdagoggend het die manne al vroeg by Klynefontein buite Groot-Brakrivier aangemeld vir boekevat oor die teorie oor al die moets en moenies van bestuur op 'n moeilike terrein. Alle moontlike scenarios wat mag opduik is bespreek en die korrekte gebruik van toerusting en alle veiligheidsaspekte is toegelig.
Na middagete het die klem verskuif na die praktiese uitvoering van alles wat geleer is. Lede is in die voertuie bygestaan deur die kundige raad van instrukteurs Mario Ferreira en Michal Gouws en gou was al die manne op hulle gemak agter die wiel en deur die hindernisse.
Die kalm en rustige wyse waarop tegniek verduidelik en gedemonstreer is, het gelei tot groot afwagting oor die Sondag se verrigtinge in Vleesbaai se sandduine.
'n Heeltemal ander terrein as die waterslote en klippe van Klynefontein, was die sandduine 'n baie groot uitdaging! Weereens was die leiding en ondersteuning van Accredited 4 x 4 Training Adventures & Events se geakkrediteerde instrukteurs deurslaggewend in die voltooiing van die hindernisse. Tussendeur was daar baie pret en 'n gesellige atmosfeer het deurentyd geheers.
Andrè Fraser, Stasiebevelvoerder van die NSRI Mosselbaai, het groot lof vir Mario en Michal en bedank hulle vir hul bereidwilligheid om betrokke te wees by die NSRI se bedrywighede. Accredited 4 x 4 Training Adventures & Events het die opleiding geborg. Die eienaars van Klynefontein en Vleesbaai Sandduine word ook hartlik bedank vir die beskikbaarstelling van hulle terreine vir die opleiding.
Bennie Durant van Oliver Bande word ook bedank vir sy tyd en borgskap, veral met die baanfooie en ander kostes.
Hy het ook sy kennis oor die korrekte gebruik van doelgemaakte bande en banddruk met die groep gedeel.
Accredited 4 x 4 Training Adventures & Events is die enigste Suid-Kaap gebaseerde, geregistreerde maatskappy vir TETA opleiding.
Hulle bied 'n basiese kursus in 4 x 4 opleiding wat oor ten minste een en 'n half dae strek. Teorie vorm die grootste gedeelte van dag een, met praktiese hulp in die namiddag.
Op dag twee, moet die bestuurders probeer om alleen die voertuig deur die hindernisse op die baan te neem, met die raad en ondersteuning van die opleidingsbeamptes. 'n Gevorderde kursus word ook aangebied nadat die basiese gedoen is.
Vir albei kursusse word die suksesvolle kandidate beloon met 'n sertifikaat en 'n ID kaart. Daar is nog plek beskikbaar vir die laaste opleidingsessie vir 2012, wat op 17 November plaasvind.
Verskillende toerpakette is ook beskikbaar na, onder meer Gondwana, Bonniedale, Moordkuil en die Baviaanskloof. Hierdie toere kan ook aangepas word volgens die behoeftes van 'n spesifieke groep.
Indien u meer inligting verlang oor opleiding en die toere, kan Michal Gouws gekontak word by 071 660 5244 epos: gouws@4x4offroadtraining.co.za

Instrukteur Mario Ferreira wys die manne hoe sand gery moet word.

Die NSRI staan gereed vir die eerste sandduin van die Vleesbaai roete.
ARTIKEL EN FOTO'S: TERSIA MARAIS