Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Maggi Nguta het as kind groot geword met ander kinders in die huis wat deur haar ma versorg en grootgemaak is.
Toe sy later in haar eie blyplek intrek, kon sy nie anders as om self kinders in te neem en te versorg nie.
FOTOGALERY: Maggi Nguta se nie-winsgewende organisasie (NWO)
Maggi se nie-winsgewende organisasie (NWO), die Nokuthula Sorgsentrum in KwaNonqaba versorg tans 22 verstandelik- en fisiek-gestremde mense.
Maggi vertel dat sy die meeste van die mense inneem, omdat hulle families hul nie kan of wil versorg nie en baie keer kom hulle nooit terug om dié mense te kom haal nie.
"Ek doen dit vir die Here. In die Boek het Hy gesê ons moet die skape oppas. As iemand se ouer of hulp wegval, moet jy hulle help. Ek is bly om die werk te doen, want ek doen iets goed. Dis vir die Here".
Maggi se sorgsentrum het verlede week 23 komberse ontvang as deel van die 67 Blankets for Mandela inisiatief. Marita Steenkamp wat die komberse oorhandig het, sê Maggi kry geen hulp van instansies nie en dat die armoedige omstandighede waarin sy en haar span liefdevol vir hierdie mense versorg, aangespreek moet word. "Dit sal wonderlik wees as die gemeenskap kan saamstaan om Maggi se NWO te ondersteun."
Die Nokuthula Sorgsentrum word ook as 'n spesiale nasorg-fasiliteit gebruik vir mense wat uit die Provinsiale hospitaal ontslaan word en versorging nodig het. Maggi se dogter, Nombulelo, werk nagskof by Huis Elsjé en val daarna in by haar ouma se versorgingshuis om ook daar te help. Sy vertel dat sy nie moeg raak nie.
"Ek is baie lief vir die werk wat ek doen." Die Nokuthula Sorgsentrum is afhanklik van donasies van die gemeenskap en plaaslike besighede. Maggi sê hulle benodig veral doeke vir volwasse mense, plastiekbottels omdat dit moeilik is vir van die pasiënte om 'n beker vas te hou.
Foto's: Alet Engelbrecht
"Hulle benodig ook sterk plastiese borde-, lepels-, vurke- en messe, omdat dit te gevaarlik is om gewone messe en vurke vir hulle te gee. Hulle kan hulself beseer."
Maggi kan gekontak word op 063 002 7941 of 078 471 5436.
Die NWO nommer is 218-225.
VIDEO - Maggi Nguta van die Nokuthula Sorgsentrum in Kwa verduidelik haar passie om mense te versorg.
VIDEO - Maggi Nguta verduidelik wat hul grootste behoeftes is om die Nokuthula sentrum te laat werk.
VIDEO - Die Nokuthula Sorgsentrum vra vir ou plastiekbotteltjies, omdat dit makliker is om vas te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’