MOSSELBAAI NUUS - In die lig van onlangse gebeure, onder meer die dood van twee tieners aan dieselfde skool, binne een polisiebedieningsarea, het die gemeenskap van Uitbreiding 13 'n vergadering gehou by Erika Primêre Skool.
Die moord op Michaela Booysen, wat in Barracudastraat net bokant Erika Primêr grootgeword het en so ook die moontlik bendeverwante moord op Khuselo Ndanda verlede week, was opnuut onder bespreking.
Beide leerders was 17 en leerders aan Hillcrest Sekondêre Skool. Booysen is tydens 'n rooftog in Asla Park met 'n piksteel doodgeslaan.
Raadslid Rosina Ruiters het in die afwesigheid van die buurtwagvoorsitter, Hilton Truter die vergadering gelei en dit duidelik gestel dat sy dit in haar hoedanigheid as gemeenskapslid doen.
Sy het egter op sommige vrae wat tydens die vergadering gevra is aangaande die munisipaliteit se rol met betrekking tot die bekamping van misdaad, reageer.
Sy het gesê dat die munisipaliteit 'n proaktiewe rol probeer speel in die beveiliging van gemeenskappe in woonbuurtes, maar dat daar altyd in gedagte gehou moet word dat befondsing vir projekte en inisiatiewe in ag geneem moet word.
Daar is ook gepraat van die noodsaaklikheid om deurgange tussen woonbuurte toe te maak en om ontbossing te doen, aangesien rowers daar skuil.
Kaptein Virgie Julius, waarnemende hoof van visuele polisiëring by die Da Gamaskop-polisie het ook 'n insiggewende inset tydens die vergadering gelewer. Hy het verduidelik hoe die buurtwagstruktuur werk binne die raamwerk van gemeenskapsbeveiliging.
Sy verduideliking van hoe groot die stasie se bedieningsarea is, teenoor die hoeveelheid mannekrag beskikbaar, is met uitroepe van skok ontvang. Juis hieroor het hy die gemeenskap bedank vir hulle betrokkenheid by buurtwagte en straatkomitees, maar steeds groter deelname bepleit.
Hy het die gemeenskap ook aangemoedig om hulleself nie sondermeer blind te staar teen die misdaadsituasie nie, maar om dit krities te oordink ten einde met kreatiewe oplossings vorendag te kom.
Hy het tydens die bespreking oor dwelmhuise en die beweerde gesloer van optrede verduidelik dat die vervolgingsprosedure tydsaam is. In dieselfde asem het hy die gemeenskap aangemoedig om nie te skroom om voortdurend hulle waarnemings van enige verdagte persone en bedrywighede in hulle buurte te rapporteer nie.
Van die sake wat tydens die vergadering betreur is, is die swak bywoning vanuit die gemeenskap, die afwesigheid van hoofde van skole in die area, asook die afwesigheid van lede van sportklubs, veral rugbyklubs wat die teenwoordiges eens was, 'n inset in veral voetpatrollies kan lewer.
In die afwesigheid van die buurtwagvoorsitter, Hilton Truter, het raadslid Rosina Ruiters 'n vergadering met die gemeenskap van Uitbreiding 13 gelei. Links van haar is Minnie Lucas (buurtwaglid), kapt Virgie Julius van die Da Gamaskop-polisie en 'n verteenwoordiger van gemeenskapsveiligheid, me Giewelaar. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'