MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers moet gereed maak vir nóg 'n intense naderende kouefront, waarsku die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
"Die kouefront sal die Suid-Kaap teen vanaand, Donderdag, 28 Mei, en môre tref. Dít volg op 'n kouefront wat die gebied die afgelope Maandag bereik het.
Stormsterkwinde en haelneerslae het groot skade op Mosselbaai en in omliggende gebiede aangerig en winde van tot 121km per uur is gemeet.
Skade
Munisipale woordvoerder, Nickey le Roux het bevestig dat kragonderbrekings in verskeie areas aangemeld is. "Tegnici het hul hande vol gehad met herstelwerk te midde van reën en wind wat veral die ooplaagspanningslyne teen mekaar laat klap het."
Herstelwerk is ook by verskeie wonings op Mosselbaai gedoen. Berigte van reën- en windskade is ontvang vanaf die Life Bay View privaat hospitaal, asook Mikeva Hyper waar skade aan die dak gerapporteer is.
Verskeie bome het omgewaai en paaie versper. Tuinmure het ook in die slag gebly, onder meer by die Van Riebeeck-stadion en by die Garden Route Dierebeskermingsvereniging op Mosselbaai. 'n Boom wat in 1988 in Stinkhoutstraat, Heiderand geplant is, het ook in die slag gebly. Die boom is destyds deur Koos en Meisie Gericke geplant en is Maandagaand deur die sterk wind ontwortel.
Voorspelling
Wayne Venter van die Suid-Afrikaanse Weerdiens het bevestig dat minstens 17.8mm reën teen Dinsdagoggend, 26 Mei gemeet is. Venter sê 'n sterk kouefront wat gepaard gegaan het met 'n diep laagdrukstelsel net suid van die land, het die land teen 06:00 op Maandag, 25 Mei bereik. "Die stelsel het baie vinnig verdiep en veroorsaak dat stormsterkwinde langs die suidkus voorkom. Dit het ook koue lug van die Atlantiese Oseaan gebring wat agter die front oor die land inbeweeg het."
Venter sê sneeu sal plek-plek op die berge in die Klein-Karoo val.
"Teen vandag en môre, sal nog 'n koue-front oor die Suid-Kaap beweeg met reën en koue temperature, maar nie weer sulke sterk winde soos vroeër dié week nie."
Die skade is duidelik sigbaar by die Van Riebeeckstadion.
Skade aan 'n tuin in die Heiderand gebied.
'n Boom is ontwortel op Mosselbaai na stormsterk wind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'