MOSSELBAAI NUUS - As deel van die Mosselbaai-munisipaliteit se GROEI-strategie het die direktoraat gemeenskapsdienste verlede week 2 000 inheemse bome, wat ook 150 vrugtebome insluit, in ontvangs geneem.
Die vrugtebome sluit vye-, suurlemoen- en lemoenbome in.
Die bome is 'n uitbreiding van die vergroening van die omgewing, wat een van die vyf doelwitte van die GROEI-strategie is. Volgens direkteur Elize Nel van die direktoraat gemeenskapsdienste, jeuk die parkespan se hande behoorlik vir die nuwe plantseisoen.
Daarom sal daar gedurende September, wat Boomplant-maand is, 'n weeklikse boomplant-seremonie op Vrydae wees om te dien as tasbare implementering van 'n strategiese doelwit. Direkteur Nel het egter genoem dat die boomplantery in Oktober en November sal voortduur vanweë die aantal bome wat geplant sal word.
Die bome is deel van die 2022 Matriekbaai-nalatenskap.
Dit sal hoofsaaklik by munisipale fasiliteite, op sypaadjies en in parke geplant word. Direkteur Nel het ook genoem dat 'n opwindende projek rakende vergroening van die omgewing waarby die gemeenskap direk betrokke kan raak, ook in die pyplyn is. Hieroor sal later meer bekendgemaak word sodra die logistiek geformaliseer is.
Hou gerus die munisipale sosiale mediablad dop vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’