TUINROETE NUUS - Die Wes-Kaapse Regering Gesondheid in Groot-Brakrivier het op 3 September ’n Fetale Alkoholsindroom (FAS)-bewusmakingspraatjie in die kliniek gehou.
Elsje Kritzinger, dieetkundige vir die Mosselbaai-subdistrik, het ’n video gewys wat die algemene implikasies vir die kind beklemtoon en het ook met pasiënte in die kliniek gesels. Weerhouding van alkohol tydens swangerskap is nie net die ma se verantwoordelikheid nie, maar die hele gemeenskap s’n.
“Almal het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders en ons moedig mense aan om met swanger vrouens te gesels oor die gevare van alkohol tydens swangerskap,” het sy gesê.
Wêreld Fetale Alkoholsindroom is op 9 September 09:09 gevier. Die rede vir die 9’s is om die belangrikheid te beklemtoon dat swanger vroue vir die volle termyn van hul swangerskap geen alkohol moet gebruik nie aangesien dit nagevolge vir die fetus inhou wat nie later gekorrigeer kan word nie.
Die Wes-Kaapse Minister van Gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, het ook die Conville-gemeenskap in George op 4 September besoek waartydens sy ’n sterk boodskap van geen drank tydens swangerskap onder die gemeenskapslede se aandag gebring het. Sy het ook twee huise, waar swanger mammas woonagtig is, besoek en hulle geprys dat hulle glad nie alkohol gebruik tydens hul swangerskap nie.
Weerhouding van alkohol tydens swangerskap is nie net die ma se verantwoordelikheid nie, maar die hele gemeenskap s’n.
Fetale Alkoholsindroom vorm deel van die Wes-Kaapse Regering Gesondheid se Eerste 1 000 Dae-program. Die Eerste 1 000 Dae, of First 1 000 Days soos dit bekend is in Engels, sluit in die baba se groei vanaf konsepsie tot die ouderdom van twee en hoe belangrik dit is om na ons kinders en moeders se gesondheid te kyk voor, tydens en na geboorte.
FAS feite:
- · FAS is 100% voorkombaar
- · FAS is die hoofoorsaak van verstandelike gestremdheid
- · Alkohol gedurende swangerskap veroorsaak permanente breinskade
- · Daar is geen veilige perk van alkoholgebruik tydens swangerskap nie
- · Selfs net een drankie kan die gesondheid van die ongebore baba aantas
- · FAS is ’n lewenslange, onsigbare en onomkeerbare gestremdheid
- · Simptome kan eers op die ouderdom van 3-4 jaar herken word
- · FAS kom onder alle rasse en alle sosio-ekonomiese groepe voor
- · Daar is geen genesing vir FAS nie
*Read more here: http://www.fasfacts.org.za/ or https://www.westerncape.gov.za/first-1000-days/
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'