Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Mandeladag in Mosselbaai is Woensdag diensbaar gevier. Oral het maatskappye, politieke partye, selfs individue hul 67 minute vir Mandela op velerlei wyse uitgeleef.
Die departement justisie en die nasionale vervolgingsgesag se personeel het van vroegoggend gereed gestaan en besoekers aan die hof met heerlike tuisgemaakte sop en broodjies bedien. Die hofgange was gou vol met mense wat heerlik aan die onverwagse bederfie gesmul het, selfs kinders wat die hof saam met hul ouers besoek het, het die broodjies en sop terdeë geniet.
Vroegoggend het raadslede, bestuurslede en ondersteuners van die Demokratiese Alliansie vullis opgeruim langs Louis Fourieweg. Gou was daar hope swartsakke bymekaargemaak vir verwydering.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se parke-afdeling het 'n opruimingsaksie op die vlak voor Benevolent Park gehou. Hier is twee grootmaatvullishouers gou met swartsakke vullis gevul.
Die Life Bay View privaat hospitaal se personeel het verskeie projekte aangebied. Een groep het uitgereik na die gemeenskap van Herbertsdale, terwyl 'n ander groep besoek afgelê het by die Leolan Akademie, 'n sentrum vir kinders met spesiale leerbehoeftes. Hier is heerlik gekuier en gespeel, en vingerverf het vir die verpleegpersoneel 'n nuwe betekenis gekry.
Personeel van die Mosselbaai provinsiale hospitaal het uitgereik na skole in landelike gemeenskappe waar onder meer 229 pakke sanitêre doekies aan begunstigdes uitgedeel is.
Ook PetroSA en Transnet het in KwaNonqaba hul deel gedoen en personeel het verskeie programme aangebied. Benewens skenkings van meubels en toebehore, is ywerig gehelp om mure te verf terwyl die gemeenskap uitgenooi is om aan verskeie sportwedstryde deel te neem. 'n Interessante loopbaanuitstalling deur PetroSA het heelwat belangstelling uitgelok.
Verskeie ander inisiatiewe het oraloor in die groter Mosselbaai plaagevind, besoek die Mossel Bay Advertiser se webblad by www.mosselbayadvertiser.com vir foto's en meer stories.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'