Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Deurdringende reën die afgelope week het wyd verligting in die Eden-distrik en omstreke gebring.
Die Ernst Robertsondam, waarvan die damvlak tot voor die naweek op 94.99% gestaan het, het sy walle oorstroom, terwyl die Wolwedansdam (78.70%) tans 80.70% vol is.
Die jongste syfer van die Klipheuweldam, tot onlangs nog op 73.63%, is nie beskikbaar nie.
Volgens die Mosselbaai-munisipaliteit is sowat 41mm in Mosselbaai se dorpsarea gemeet, teenoor 45mm in Groot-Brakrivier en heelwat meer, 70+mm, na die berg se kant toe.
Groter streek
Hoewel die droogte in Kaapstad steeds meer knellende afmetings aanneem, is berigte van goeie neerslae van sover as Fraserburg (12mm), Beaufort-Wes (25mm) en 'n ligte sneeuneerslag, en Ladismith (35mm) ontvang.
Op Swellendam in die dorp is volgens Blackie Swart 'n allemintige 125mm gemeet.
Op Robertson het die pad deur die dorp by tye oorstroom en het voertuie deur riviere van water hul weg moes baan.
Mosselbaai se omstreke
Nader aan Mosselbaai berig Fourie Ackerman dat 65mm in die Friemersheim-omgewing gemeet is, Freddie Goosen het 48mm in Danabaai gemeet, Natasha Mostert het 55mm oornag in Hartenbos gemeet, en sy berig dat daar ook op hul plaas by Paardebond in die Oudtshoorn-distrik goeie neerslae was.
Chris Botes berig dat vroeg Woensdagoggend op Hersham 55mm, en op Groot Brakrivier Hoogte 70mm gemeet is.
Anton Barnard van Vleesbaai was uitbundig bly oor die goeie reën in die area die afgelope week. Foto: Dave van der Merwe
Op die Mossel Bay Advertiser se facebookblad het inwoners onthuts reageer toe aanvanklik berig is dat daar op Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 nog net sowat 10mm gemeet is.
Daarna het Hanton van den Berg Woensdagoggend om ongeveer 11:00 berig dat 68mm in Friemersheim gemeet is, en dat goeie neerslae steeds ondervind is.
Walda Botha het berig dat 60mm sedert Dinsdagoggend in Hersham, Groot-Brakriver, gemeet is, en berigte van goeie neerslae is ook vanuit die Herbertsdale-omgewing ontvang.
Mosselbaai-munisipaliteit het bevestig dat geen noemenswaardige skade aan infrastruktuur aangerig is nie.
George
In die George-area, waar die droogte reeds waterbeperkings tot gevolg gehad het, het die munisipaliteit aangedui dat goeie neerslae meegebring het dat die noodtoestande en waterbeperkings op Saterdag, 18 November opgehef sal word, hoewel daar streng waarskuwing uitgereik is vir die publiek om steeds water te bespaar om waterveiligheid te handhaaf deur die komende somervakansieseisoen.
Trevor Botha, die munisipale bestuurder van George, het gesê die Tuinroete-damvlak sedert 18 September was sowat 45%, maar het op 15 November op 66.5% gestaan.
Volgens weervoorspellings sou die goeie reënneerslae tot Donderdagoggend voortduur.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'