MOSSELBAAI NUUS - Na aanleiding van 'n leser wat 'n boete opgelê is vir 'n nommerplaat aan haar voertuig wat nie behoorlik vasgemaak was nie, het die Mossel Bay Advertiser gaan kyk na ander soortgelyke boetes wat jou as bestuurder opgelê kan word.
Indien jy afgetrek word deur verkeerspersoneel by 'n padblokkade, is die meeste motoriste nie bewus van die verskeie verkeersboetes wat opgelê kan word volgens die Nasionale Padverkeerswet, 1996 (Wet No. 93 van 1996) en regulasies nie.
Daar is ook 'n boetelys soos vasgestel deur die landdroshof.
Die Advertiser het met Mosselbaai-munisipaliteit se assistent-hoof van verkeer en handhawing van bywette, Antoinette Snyders gesels oor die rare boetes en verwarring van sekere boetes wat opgelê kan word.
Wat spoed aanbetref, verduidelik Snyders dat in elke spoedsone word daar 10km per uur grasie gegee.
Dus in 'n 60km per uur sone kan 'n bestuurder tot en met 70km per uur bestuur. Sodra 'n bestuurder oor die 10km per uur grasie en dus 71km per uur ry word 'n boete uitgereik.
Bestuurders wat meer as 40km per uur oor enige spoedsone ry, word gearresteer en toegesluit vir roekelose en nalatige bestuur met geen skuld erkeninngsboete deur 'n beampte uitgereik nie, aangesien net die hof so boete kan
oplê.
Die mees algemene boetes wat opgelê word is vir lisensies, lisensieskyfies en vir defekte aan 'n voertuig wat insluit bande, remme, ligte en dies meer.
Daar is baie ander wat egter minder bekend is waarvan motoriste bewus gemaak kan word.
Een hiervan is die sigbaarheid van jou nommerplaat. Verskeie voertuie met trekstange verbloem die nommerplaat gedeeltelik en 'n boete kan daarvoor opgelê word. Rondom nommerplate alleen, is daar verskeie alternatiewe boetes wat opgelê kan word.
Dit is soos volg:
- versuim om beide nommerplate te vertoon;
- 'n nommerplaat wat maklik verwyder kan word of skeef hang;
- 'n nommerplaat wat na registrasie vanaf 1 Julie 2011 nie aangeheg is met klinknaels of selftappende skroewe nie;
- en 'n dagvaarding word uitgereik vir 'n voertuig met geen nommerplate.
Ander interessante en minder bekende boetes is:
- Dat jy beboet kan word as jy versuim om jou hoofligte te domp vir aankomende verkeer;
- Indien jy van adres verander en versuim om binne 14 dae die nodige registrasie-owerheid daarvan in kennis te stel;
- 'n Gedeelte van die liggaam soos elmboog buite venster laat hang, wat ook geld vir passasiers;
- Ongemagtigde gebruik van die toeter;
- Versnel terwyl 'n ander voertuig jou verbysteek.
Vir nog meer interessante boetes, kan die skakel AARTO besoek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'