MOSSELBAAI NUUS - Die Haven-nagskuiling op Mosselbaai se algemene jaarvergadering vind op 14 Augustus om 11:00 in die Haven-gebou onderkant die Montagustraat taxi-staanplekke plaas.
Die publiek en verteenwoordigers van instansies en besighede word uitgenooi om die vergadering by te woon. Vir meer inligting skakel die kantoor (044 691 0189 of 064 433 1388).
Die Haven het vyf jaar gelede geopen. "Na die aanvanklike groeipyne en verskeie uitdagings wat langs die pad voorgekom het en steeds ervaar word, is ons baie dankbaar dat ons steeds 'n uitkoms aan die haweloses van die omgewing kan bied," sê 'n bestuurslid. Daar is 84 beddens beskikbaar en gedurende die wintermaande gebeur dit gereeld dat almal beset is.
Mosselbaai se Nagskuiling is deel van die Haven-groep wat 15 skuilings in die Wes-Kaap bedryf en werksaamhede word sentraal deur die hoofkantoor in Kaapstad gereguleer. Hulle word hiermee ondersteun deur plaaslike bestuurskomitees wat uit vrywilligers bestaan.
Die bestuur wil graag almal wat die organisasie ondersteun en in staat stel om die nagkuiling se deure oop te hou, opreg bedank. "Sonder die bydraes, finansieel en andersins, van verskeie besighede, kerke en individue in die dorp sou dit nie moontlik gewees het nie.
"Dit is werklik verblydend om die gesindheid van die donateurs te beleef. Hulle omgee, liefde en vriendelikheid is merkwaardig. Dankie Mosselbaai! Julle maak die taak baie makliker."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'