Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Na die sowat twee jaar dat kwalik enige programme vir ouer persone aangebied kon word vanweë die beperking tot toegang uitgestip in Covid-19-maatreëls, is die Mosselbaai-munisipaliteit weer op dreef binne die ouerwordende gemeenskap.
Vandeesmaand, beskou as Mensregte-maand, is twee gemeenskapsprojekte in die landelike gebiede, in samewerking met ander tersaaklike staatsdepartemente aangepak.
Die eerste hiervan was in Jonkersberg, in samewerking met die departement maatskaplike ontwikkeling.
Volgens die organiseerders, was dit die eerste keer in twee jaar dat ouer persone in die omgewing weer behoorlik kon sosialiseer.
Annemarie Dellemijn, raadslid Anton Dellemijn se eggenoot het ook aan die program deelgeneem en te kenne gegee hoe insiggewend dit was om met ouer persone te skakel oor sake wat hulle raak.
FOTOGALERY: Mensregte-maand sien twee gemeenskapsprojekte aan die gang
Daar is op spesifieke elemente gefokus, waarvan die vertrekpunt basiese kontak was om net weer met die ouerwordende gemeenskap se behoeftes in aanraking te kom. Voorts is 'n verwysingstelsel met die gehoor gedeel, waarvolgens klagtes by die munisipaliteit aangemeld kan word vir verdere verwysing.
Daar is ook in diepte gesels oor vorme van mishandeling wat ouer persone raak.
Volgens beplanning, sal hierdie program maandeliks in verskeie areas binne die groter Mosselbaai aangebied word.
Een van die groentebeddings word voorberei.
Tydens 'n tweede geleentheid gefasiliteer deur die Mosselbaai-munisipaliteit, is daar onder die gemeenskap in Herbertsdale gewerk in samewerking met die departemente landbou en korrektiewe dienste.
Die Raised Beds-projek spreek onder meer voedselsekerheid aan. Deur die bou van blom- of groentebeddings van 'n bepaalde hoogte, kan ouerwordende persone makliker toegang daartoe kry om byvoorbeeld hulle eie groente te verbou. In die proses word ouer persone ook gehelp om die grond voor te berei en die regte saailinge te plant.
VIDEO: Oues wikkel weer na 2 jaar
Volgens 'n woordvoerder vir die projek, het die departement van landbou tydens die program meer oor bemesting en grondvoorbereiding gesels, terwyl die departement van korrektiewe dienste saailinge vir die projek sal verskaf.
Persone onder korrektiewe toesig sal ook by die versorging van die tuintjies betrokke wees, waar nodig.
Enige persoon wat meer inligting benodig, kan Alma Kritzinger by die Mosselbaai-munisipaliteit kontak (044 606-5251 of 079 691-7708) of epos by Akapp@mosselbay.gov.za.
Die wêreldbekende Hannes Coetzee op sy kitaar wat hy met behulp van 'n lepel bespeel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'