MOSSELBAAI NUUS - Operasionele personeel van die Mosselbaai Sentrale Vebeteringsdistrik, oftewel CID, kan seker ook na verwys word as voetsoldate vir veiligheid.
Een van die CID se staatmakers, Martin Blaauw tree uit as gevolg van mediese redes.
Blaauw het op 13 Januarie 2015 by die CID aangesluit en met ses jaar se diens op sy kerfstok, het hy baie ure te voet deurgebring.
Volgens die bestuurder van die CID, Werner Schwella het die direksie onlangs besluit om alle operasionele lede met vyf jaar of meer diens, erkenning te gee deur langdienssertifikate aan hulle toe te ken.
"Ons gun Martin dit om nou meer rustige tydjie saam met sy familie te geniet," sê Schwella.
Die operasionele personeel doen voetpatrollies vir 365 dae van 'n jaar om veiligheid en misdaadvoorkoming in die sakekern in die hand te werk. Diens word daagliks in skofte gedoen, naamlik van Sondag tot Donderdag vanaf 07:00 tot 14:00 en die middagskof, van 14:00 tot 21:00. Oor naweke, dus Vrydae en Saterdae is die skofte 07:00 tot 14:00 en 14:00 tot 22:00.
"Ons noem die manne ook ons veiligheidsambassadeurs en ek is oortuig daarvan dat as dit nie vir hulle was nie, was Mosselbaai se sakekern slegter daaraan toe," meen Schwella.
Die personeel bied die afgelope tyd gereeld ondersteuning aan die SAPD tydens deursoekoperasies, aldus Schwella, en het ook op 'n daaglikse basis te doen met haweloses, onder wie hulle bedelary teenwerk.
"'n Tydjie gelede was hul betrokke om te help om 'n persoon aan te keer wat 'n groot kartondoos vol medikasie gebuit het. Hulle het ook onlangs 'n selfoon opgetel en dit aan die eienaar terugbesorg. Verder soek hulle gereeld na die eienaars van voertuie wat nie gesluit is nie en waarin waardevolle items sigbaar rondlê. Gevaarlike situasies is ook maar aan die orde van die dag. Die personeel vertel dikwels van verbale konfrontasie in die uitvoer van hulle pligte.
"Ons het 'n video ontvang, geneem deur 'n personeellid, waar hulle agter 'n man stap wat met 'n mes in sy hand loop. Hy het dit egter later onder sy hemp versteek. Die SAPD is ingeroep om die stiuasie te hanteer."
Schwella sê dat die operasionele personeel doen wat hulle hand vind om te doen. Daar waar nood is, rol hulle moue op – of dit nou is om 'n voertuig waarby ingebreek is se niksvermoedende eienaar te soek en of hulle 'n bejaarde oor die straat moet help, op húlle kan jy blykbaar staatmaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'