MOSSELBAAI NUUS - Oom Louis Stevens snr, soos hy bekend gestaan het onder Mosselbaai se groter gemeenskap, is verlede Woensdag op die ouderdom van 79 oorlede.
Sy heengaan is 'n groot verlies vir die familie, asook vir die breër bruin gemeenskap.
Hy en sy familie was 'n sprekende voorbeeld vir baie opkommende sakelui in sy gemeenskap.
In sy jong dae was hy 'n bekwame ambagsman in die boubedryf.
In die vroeë 1970's was hy saam met 'n paar bekendes uit sy gemeenskap wat die taxi-bedryf in Mosselbaai begin het.
Vandaar het hy nie weer teruggekyk nie. Stevens Transport het oor die jare 'n huishoudelike naam geword in die groter Suid-Kaap.
Oom Louis het 'n ongekende passie vir sy gunsteling sport, rugby gehad.
Hy was destyds lid van Spring Roses-rugbyvoetbalklub, vir wie drie van sy seuns gespeel het.
Met die ontbinding van hierdie klub was hy aan die begin jare betrokke by Barbarians RVK.
In baie gevalle het hy 'n helpende hand uitgereik ter wille van die spel.
Hy en sy oorlede vrou, Auntie Rose, was ook baie bemind in die gemeenskap vir hul liefdadigheidswerk.
Baie sal hom onthou vir sy nederigheid, en beslis as 'n mense-mens: 'n man van min woorde, maar van vele goeie dade.
Sy nalatenskap spreek boekdele.
Hy was beslis 'n legende.
Die begrafnis sal by die AGS-kerk in Uitbreiding 8 om 09:00 op 23 Desember plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'