MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai Tuinbouklub se April-vergadering is gehou in die Garden Square op Redberry Farm, by Geelhoutboom naby George. Die lede was aangenaam verras met al die nuwe uitbreidings op hierdie pragtige aarbeiplaas.
Die gasspreker was Mark Miller, mede-eienaar van die plaas. Hy vertel dat hy, sy vrou en hul drie kinders in die jaar 2000 vanaf Malelane na George getrek het.
Dit was net na die oorstromings in die Laeveld. Hy het 'n kontrak by Woolworths gekry, omdat die Laeveld nie kon produkte verskaf nie.
Die heel eerste gewasse wat hy aangeplant het vir Woolworths was groenbone.
Woolworths het vir hom nog 'n verder kontrak aangebied vir aarbeie. Alhoewel hy baie min van die gewas geweet het, het hy die kontrak aanvaar.
Die eerste Israeliese variëteit aarbei wat hy geplant het was glad nie suksesvol of geskik vir die area nie.
Sy tweede probeerslag met die Kalforniese variëteite uit Watsonville, wat dieselfde klimaat as George het, was 'n wenner.
Volgens Miller, is aarbeie voorheen bemark as "'n romantiese vrug" omdat dit die vorm van 'n hart het. Die nuwe bemarkingsneiging is om te fokus op gesondheidskenmerke. Aarbeie is 'n goeie antioksidant en het sodoende goeie invloed op immuunsisteem.
Planttyd vir aarbeie is in April. Miller stel voor dat die aarbeiplante 25cm uit mekaar geplant word. Strooi kan rondom die plant gesit word, sodat die vrugte nie aan die grond raak nie. Aarbeiplante in April geplant sal teen 21 Junie begin blom.
Miller beveel 'n wateroplosbare kunsmis wat vooraf in die grond ingewerk kan word, voordat jy jou aarbeie plant.
Dis 'n natuurlike organiese bemesting gebaseer op hoendermis, wat 'n bron van voedingstowwe en natuurlik verryk is met kelp en vismeel. Die aarbeidplaas vervang elke jaar hulle plante en maak plante van die suiers wat die moederplant uitstoot.
Hulle plant plus minus 50 000 plante per hektaar en het 18 hektaar lande.
Daar word tans ook kiwivrugte, frambose en swartbessies aangeplant. Hulle eksperimenteer met 'n nuwe variteit miniatuur kiwiberrie. Die uitbraak van rooispinnekop word beveg met 'n insek wat hulle vanuit Holland ingevoer het.
Vir meer inligting oor die tuinbouklub, kontak Thora (044 698 2072).
Paar van die tuinbouklub se lede gesellig voor die nuwe aangeboude Garden Square by die Redberry Farm in George. Hier is (van links) Mary Cronje, Mimmi Butler, Linda Klein, Marie Loftie Eaton, Hannie Dry, Karien Butler en Rene Louw.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'