MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Hartenbos, dr Gerrit Theron (83) het onlangs sy debuutdigbundel uitgebring.
Theron se vrou, Betsie (76) was die inspirasie agter die bundel. Theron en Betsie het beide hul lewensmaats aan kanker verloor en is sewe jaar gelede getroud.
"Ek het haar in 2013 ontmoet. Ek het in die verlede hier en daar iets geskryf, maar niks wat wonders nie. Toe het ek by die Digterstemme, 'n digtergilde op Mosselbaai aangesluit."
Die bundel, Eklektrika is 'n mengelmoes verse en rympies.
Afrikaanse digter, René Bohnen beskryf die bundel as 'n lekkerlees bundel vir oud en jonk.
Bohen sê: "Eklektrika bevat 'n verskeidenheid toeganklike gedigte wat terselfdertyd 'n goeie spektrum van verstegnieke dek. Humor en erns is vervleg. Vanaf die kort haiku, skerp kwatryne en gevatte limerieke tot die liriese triolets en rondeau geniet die leser 'n wandeling in die digter se gemoed, asook sy intellektuele lewe."
Die bundel is deur Bidvest Data in Kaapstad gedruk. Theron het ongeveer 100 bundels laat druk.
Hy het in 2014 aan die bundel begin skryf en het vroeg vanjaar die bundel voltooi.
"Op my gevorderde ouderdom was dit vir my opwindend. Ek het heelwat van die gedigte aan Betsie opgedra."
Theron sê die bundel is 'n nalatenis vir sy vrou en kinders.
Die bundel word aan Betsie opgedra en Theron spreek sy dank teenoor sy dogters, Suzaan (Zanie), Lizette en Inge, wat ook geldelik bygedra het om die publikasie moontlik te maak.
Een van sy gedigte, Doelwit lui:
julle moet weet
ek skryf hierdie goed
voor Heimer kom groet
en ek Alz vergeet
Theron het 'n doktorsgraad in onderwysbestuur. Hy het 'n liefde vir rooiwyn en vetplante en woon reeds etlike jare in Hartenrus-aftreeoord. Hy sê hy gaan beslis aanhou dig.
"Nie noodwendig om nog 'n bundel die lig te laat sien nie. Vir my persoonlik beteken die bundel 'n nalatenskap vir vriende en familie. Ek is nie daarop uit om die bundel te bemark vir geld nie."
Theron het ook al 'n gedig in Maskers en Mure gepubliseer, asook in Die Burger, Versindaba, Digterstemme Mosselbaai en AVBOB Poësieprojek.
Enigeen wat meer inligting wil hê kan Theron kontak by gerritron@hartenrus.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'