MOSSELBAAI NUUS - 'n Skrywer van Hartenbos, wat debuteer met haar eerste boek, glo dat daar kwalik 'n beter tyd kon gewees het om 'n boek op die mark te kry. Juis omdat haar boek oor hoop gaan.
Marilize Terblanche-Swart se Die Boek van Hoop bevat sewe aangrypende, ware verhale van mense wat die meeste gemaak het van omstandighede wat ander waarskynlik sou onderkry.
'n Silwer muntstuk
Sy is in Oudtshoorn gebore, maar sedert haar babadae 'n Mosselbaaier. Kleintyd al bekoor stories en boeke haar. Op driejarige ouderdom is sy reeds 'n lid van die dorpsbiblioteek. Toe sy agt jaar oud was, skryf sy 'n verhaaltjie oor 'n pêrel wat selfs die skoolhoof beïndruk het. Hiermee verdien sy haar eerste beloning vir skryfwerk. "Ek het 'n silwer muntstuk gekry vir my innoverende denke en nooit weer ophou skryf nie." Op skool haal haar kortverhaaltjies Vrouekeur.
Ná skool lok die joernalisitiek haar. Haar eerste koerantartikel sien hoeka die lig in die Mossel Bay Advertiser, maar sy besef gou dat sy eerder uit die hart wil skryf oor dinge wat haar interesseer. Sedertdien is van haar verhale en gedigte in 'n paar bloemlesings gepubliseer. Vandag werk sy in 'n bestuurspos by Vredebest. Na haar seuntjie se geboorte, het sy deeltyds betrokke geraak by liefdadigheidswerk. Van haar skryfwerk het hieruit voortgespruit.
Sy lees wyd én baie, met speurverhale, ware verhale of biografiese werke as haar voorkeure. Wat haar eie werk betref, is sy veelsydig en waag haar hand aan poësie, prosa, fiksie en nie-fiksie.
"My gunsteling tans is inspirerende nie-fiksie met 'n Christelike ondertoon. Ek geniet dit ook om van tyd tot tyd 'n spanningsverhaal te skryf, maar my eerste liefde bly die skryf van ware verhale."
Mense en hul stories
Met Die Boek van Hoop debuteer sy as inspirasie-skrywer.
"Oor die jare heen het ek nog altyd met diepte na dinge gekyk, ander se emosies intens beleef en empaties gevoel teenoor diegene wat pyn of moeilike omstandighede beleef het."
Die boek was 'n uitvloeisel van haar liefde vir mense en om hulle stories te hoor.
Vyf van die verhale in die boek handel oor Mosselbaaiers. Onder meer oor die bekende kwadrupleeg Clinton Pietersen wat in 2019 oorlede is. "Hy is oorlede voor ek sy storie kon skryf, maar kon ek met behulp van vriende, familie en kollegas voortgaan."
Sy het 'n paar mense lukraak genader om hulle stories aan haar te vertel. "Uiteindelik het ek 'n reeks ware verhale geskryf oor mense wat fisieke of emosionele trauma of uiters moeilike omstandighede oorkom het en wie se verhale, myns insiens, hóóp kan gee."
Sy glo dat Die boek van Hoop "verkwikkende sielskos" bied wat waardering vir die lewe by lesers sal skep. "Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees, of 'n baken van hoop." Die boek sal byval vind by 'n wye teikengehoor, meen Marilize.
"Die jonger garde is nie juis bekend daarvoor dat hulle Christelike nie-fiksie lees nie en daarom wou ek juis 'n funky voorblad hê om jong lesers te betrek. Die genre waarin ek skryf, word gestereotipeer as hoogdrawend, afgesaag en prekerig. Ek wil mense tot ander insigte bring."
Sy is reeds besig met Die Boek van Hoop se opvolg en 'n lekkerlees-roman is ook in die pyplyn.
Haar boek, beskikbaar deur Malherbe Uitgewers, sal ook in e-boek-formaat beskikbaar wees, wat dit bekostigbaar vir almal maak. Vir meer inligting, besoek Facebook: Marilize Terblanche-Swart Skrywer of www.malherbe-uitgewers.co.za.
"Dit is lekker om by 'n leser te hoor 'jou storie het my hoop gegee' en as ek net 'n paar mense kan inspireer, sal ek reeds voel ek het my doel bereik." Tydens 'n dramakursus in 2009 het een van die gas-aanbieders, Marga van Rooy oftewel Ella van Vetkoekpaleis voorspel dat Marilize Terblanche-Swart die volgende Dalene Matthee gaan word. Wie weet? Die tyd sal leer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'