Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vrydag, 26 Junie het soos enige ander wintersdag begin, maar vir die S.M.A.R.T.-span (Stranded Marine Animal Rescue Team) het dit vinnig in 'n buitengewone dag verander. 'n Besonderse gas het sy verskyning op 'n Mosselbaaise strand gemaak toe 'n Suidelike olifantrobmannetjie besluit het om vir 'n tydjie op die strand te kom rus.
Die S.M.A.R.T.-vrywilligers, in besit van die toepaslike permitte, het op 'n daaglikse basis die veiligheid van die rob én die publiek verseker. Suidelike olifantrobbe kom in die sub-Antarktiese en Arktiese waters voor.
Daarom is dit dus 'n belewenis om so 'n groot rob op plaaslike strande te sien. Die mannetjie is 4.9 meter lank met 'n geskatte gewig van ongeveer 2 – 2.4 ton.
Die olifantrobmannetjies is baie groter as die wyfies en kan tot en met 6 meter lank wees met 'n gewig van amper 4 ton. Dié rob het ook die kenmerklike slurp wat hulle die naam olifantrob besorg het. Die slurp word nie altyd gesien nie, maar gedurende paartyd of wanneer die rob 'n ander mannetjie probeer intimideer.
Die S.M.A.R.T.-lede het vir die besoeker 'n naam gesoek en daar is op Glen besluit. Hy het die hele naweek baie rustig op die strand vertoef waarna hy terug die water in is.
"Dit is altyd vir die S.M.A.R.T.-lede 'n baie groot eer en voorreg om so 'n dier op te pas," sê 'n S.M.A.R.T-woordvoerder.
Kyk 'n video hieronder
Die mannetjie is 4.9 meter lank met ‘n geskatte gewig van ongeveer 2 – 2.4 ton.
Foto: Tersia Marais
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'