MOSSELBAAI NUUS - Met die Cape Pioneer Trek-fietsren wat volgende week in Mosselbaai begin, het 'n perd van 'n ander kleur wat fietsry betref aan die lig gekom. Twee broers, Martin en Anton Pauw, onderskeidelik die pa en 'n oom van 'n plaaslike fisioterapeut het in die 1960's 'n uiters buitengewone tog aangepak. Deesdae woon Martin in Vleesbaai en Anton in Boggomsbaai.
Tandem gebou
Dié twee jong manne het in Januarie 1961, toe 20 en 17 jaar oud, kuslangs vanaf Mosselbaai na Pretoria met die fiets gery. Die reis het geduur van 3-26 Januarie en 'n allemintige 1 963km behels. Vandag spot hulle dat as twee voorbeeldige predikantskinders, darem Sondae gerus het. Vir die reis, het hulle twee 28 Herculesfietse deurgesaag en aan mekaar vasgesweis. Die kettings is in lyn gebring en op hierdie vindingryke manier het hulle hul eie tandemfiets gemaak.
Die tandemfiets is boonop voorsien van 'n 1955 3-spoed Sturmy Archer-ratkas met 'n meganiese myl- en spoedmeter. 'n Dinamoliggie is voorop aangesit en standaard enkelfietsbande is opgesit vir die langpad. Met saamgeflansde rytuig op die dak van 'n ou Chevrolet, is die manne af Vleesbaai toe, hulle vakansieplek vanwaar die tog sou begin. Die roete neem hulle deur die Tuinroete, na Port Elizabeth, Oos-Londen, deur die destydse Transkei, na Umtata, Port Edward, deur die Natalse Suidkus, verby Durban tot in Pretoria.
Daar was gevaarlike, smal teerpaaie wat met talle bergpasse af en weer op gekronkel het. Die passe het 'n gesweet afgegee en male sonder tal is daar kilometers ver gestoot deur die steil passe heen.
Ter voorbereiding vir die tog, het die manne wel geoefen - 'n totaal van 110km, waarvan die helfte op 'n grondpad was.
'n Pakdonkie
Die tandem, klaar gelaai, het behoorlik soos 'n pakdonkie gelyk. Ou skoolsakke voor, agter en tussen die bene. Saalsakke bo-oor die drarak. 'n Tent en slaapsakke bo-op mekaar, plus waterbottels en blikbekers wat swaai. 'n Pomp en spaarband en 'n "nommerplaat" agterop - TP vir Pretoria. Die geskatte gewig van die tandem se vrag was 195kg, bestaande uit die bagasie (45kg), die fiets (25kg), die twee fietsryers (60 en 65kg). By berekening is daar 108km per dag gery, basies 'n "Argus" 'n dag.
Die aard van die roete het natuurlik 'n effek op die afstand gehad met die langste ente Vleesbaai na Knysna (137km) en Standerton na Pretoria (205km).
Die ietwat roekelose, hoogste spoed behaal was volgens die meganiese spoedmeter tot 100km/h. Met 'n gewig van bykans 200kg is bergpasse se afdraandes waaghalsig kafgedraf. Die langste ononderbroke opdraand was 19km - deel van die dor en waterlose Keipas.
In totaal is die tandem vir 240km, sowat 12% van die totale afstand gestoot.
Ongedeerd
Hulle onthou die hard trap, hard stoot, die digte mis, min kos, min rus en veral die min water. Wat hulle dieet betref was die stapelvoedsel brood en mieliepap. Bully Beef, sousboontjies en koffie met kondensmelk het handig te pas gekom. Wat "aanvullings" betref was daar nie sprake van boosters en energiedrankies nie. Suurvye, turksvye en pynappels langs die pad ge-oes moes maar doen.
Die waternood, veral toe die termometer by 46 grade Celsius trek, was glo die ergste. Die piepklein tentjie wat saamgeneem is, is net opgeslaan as dit reën. Die res van die tyd, is die slaapsakke sommer onder 'n bos oopgerol. Riviere en die see het as wasplekke gedien.
Kort-kort moes iets aan die tandem herstel word, maar wat beserings en ander teëspoed betref, het die twee jonges nooit eens geval nie. Valhelms was ongekend en 'n pet op die kop was die enigste beskerming.
Hulle sitvlakke het glo die swaarste gekry.
* 'n Verkorte weergawe van Anton en Martin Paauw se reis het in 'n kopie van Weg-tydskrif verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'