MOSSELBAAI NUUS - Die Hartenbosrivierforum het 'n nuwe wapen ingespan in hul stryd teen muskiete en miggies wat die lewe langs die rivier versuur.
In samewerking met 'n vervaardiger, wat een van die vlermuiskaste aan die forum geskenk het, het die forum 'n verdere aantal vlermuiskaste aangeskaf.
Vlermuise kan hul eie gewig in muskiete eet per uur.
Die forum hou 'n wakende oog oor die Hartenbosrivier en is in noue skakeling met belangegroepe soos die Mosselbaai-munisipaliteit en ATKV. Onlangse tellings het boonop getoon dat hul nougesette bestuur van die rivier vrugte afwerp met toenames in beide die aantal spesies asook getalle van vis wat waargeneem is.
Tydens die afgelope Maandag se vergadering met alle rolspelers by die riviermonding is strategie, suksesse asook minder suksesvolle pogings om rivier te rehabiliteer bespreek.
Gesamentlik is besluit om die publiek te versoek dat aas-uithaal gestaak moet word om die rivier alle moontlikhede van rehabilitasie te gun.
Lede van die Hartenbosrivierforum doen 'n beroep op die gemeenskap om nie verder aas uit die rivier te verwyder nie sodat die rivier kans gegun kan word om te rehabiliteer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'