MOSSELBAAI NUUS - 'n Onvoltooide huis in Dassiestraat, Uitbreiding 13, is 'n doring in die gemeenskap se vlees.
Volgens inligting, staan die murasie op 'n perseel in Dassiestraat reeds meer as 'n dekade so.
'n Besorgde lid van die publiek het vandeesweek 'n navraag aan die Mossel Bay Advertiser gerig waarin beweer word dat die perseel nie net 'n uithangplek is waar middelmisbruik plaasvind nie, maar dat jongmense hulle daar "soos waaghalse" gedra deur "op die 5 meter hoë mure te speel".
Die persoon beweer dat die saak wel met die owerhede opgeneem is, maar dat dit klaarbyklik geen gevolg het nie.
In reaksie op 'n navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit te kenne gegee dat hulle van die gemeenskap se ontevredenheid oor die perseel bewus is.
"Die perseel is privaat eiendom en al die nodige kennisgewings ingevolge die Nasionale Bouregulasies en ander wetgewing is reeds op die eienaar bedien. Ten spyte van die kennisgewings, het die eienaar nog geen poging aangewend om die huis te voltooi of die situasie te verbeter nie," het Carel Venter, direkteur van beplanning en ekonomiese ontwikkeling berig.
In die kommentaar word dit gestel dat moontlike verdere optrede deur die munisipaliteit insluit om die howe te nader vir onder meer 'n slopingsbevel.
Laasgenoemde is egter 'n tydrowende en duur proses.
Beide die munisipale wetstoepassers asook die polisie is bewus van die probleem.
"Die gemeenskap word aangemoedig om alle onwettige optrede by die polisie aan te meld. Die munisipaliteit doen verder 'n ernstige beroep op die gemeenskap om by die onderskeie, geakkrediteerde buurwaggroepe aan te sluit en deel te word van die oplossing, naamlik die aktiewe bestryding van misdaad."
Ten einde gemeenskapveiligheid te bevorder, het die munisipaliteit reeds ver gevorder met die vestiging van 'n gesamentlike, interdissiplinêre beheerkamer. Ook buurtwagte sal hier verteenwoordig word.
Dit word in die vooruitsig gestel dat hierdie fasiliteit sal meebring dat misdaadvoorkoming gekoördineerd kan plaasvind, groter klem op brandpunte geplaas kan word, en dat mannekrag en toerusting na behore en tot voordeel van die gemeenskap aangewend kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'