MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai, 'n toerisme-dorp bekend vir talle aanprysings vir uitnemendheid, het die afgelope week vir die eerste keer 'n vennootskap met wetstoepassingsinstansies gesluit in 'n daadwerklike poging om misdaad behoorlik hok te slaan.
Die dorp is een van slegs 'n handjievol munisipaliteite in die land wat veiligheid 'n munisipale prioriteit maak.
"Vir die ekonomie om te groei, is toerisme belangrik en moet 'n veilige omgewing geskep en verseker word. Daarom is die betrokkenheid van die onderskeie instansies wat vir veiligheid verantwoordelik is, vir die goeie funksionering van die voorgenome, inklusiewe veiligheidsvennootskap van kernbelang," het die voorsitter van die loodsvergadering, raadslid Anton Dellemijn gesê.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het die inklusiewe veiligheidsvennootskap, wat onder meer verteenwoordigers van meeste van die buurtwagte en polisiestasies betrek, verwelkom.
Plan teen misdaad
Burgemeester Levendal het benadruk dat 'n effektiewe plan teen misdaad die gom is wat die samelewing sal saamsnoer en effektiewe, samewerkende gemeenskappe en ekonomiese groei sal stimuleer.
Hy het verwys na 'n veiligheidsplan wat die munisipaliteit reeds volg, hoewel dit op munisipale wetstoepassing en die nakoming van munisipale verordeninge fokus.
"Ek is jammer gemeenskapsveiligheid was vantevore nooit 'n groot prioriteit van hierdie munisipaliteit nie, dalk het die plaaslike owerheid selfs apaties daaroor gestaan.
Hierdie raad het heelwat gesprekke, selfs op provinsiale vlak oor gemeenskapsveiligheid gevoer en is werklik ernstig oor 'n veilige omgewing waarin ons gemeenskap kan woon en werk en wat tot ekonomiese vooruitgang kan meewerk.
Die hoof van wetstoepassing, mnr Henry Williamson het op Vrydag, 28 Julie die munisipaliteit se veiligheidsplan toegelig, en die voorneme is om hierdie plan inklusief aan te pas met voorstelle deur die onderskeie instansies.
Een van die groot leemtes wat aangespreek is, is die behoefte aan 'n sentrale beheerkamer waaruit veiligheid gemoniteer en inklusiewe inisiatiewe geloods kan word.
Burgemeester Levendal het buurtwagte en die polisie geloof vir hul onbaatsugtige en selfs opofferende toegewydheid om die veiligheid van inwoners eerste te stel. Hy het gewys op die noue samewerking tussen raadslede en buurtwagte en die hoop uitgespreek dat meer inwoners by buurtwagte sal aansluit.
Onderburgemeester Dirk Kotzé het ook gesê die munisipaliteit het die rol as beskermheer van gemeenskapsveiligheid opgeneem en gesê die provinsiale regering het die munisipaliteit die mandaat gegee om baie meer betrokke te raak by geakkrediteerde instansies wat die veiligheid van alle inwoners verseker.
Verteenwoordigers van die onderskeie buurtwagte en polisiestasies in die groter Mosselbaai het by die loodsvergadering van 'n veiligheidsvennootskap hulle tot groter en effektiewe samewerking verbind.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
"Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'