MOSSELBAAI NUUS - Die gesegde lui dat 'n profeet nie in sy eie land geëer word nie, maar in Mosselbaai is dit duidelik anders.
Dit volg nadat daar tydens die mees onlangse algemene raadsvergadering besluit is om drie plaaslike mans se verdienstelikheid erkenning te gee.
Die munisipale raad het tydens die vergadering op 25 Maart eenparig besluit om Wade Shaw, president Mossel Bay Surf and Life Saving Club en lewensredder Paul Barnard te vereer met munisipale ere-toekennings na hulle op 12 Februarie 'n swemmer se lewe op Diasstrand gered het. Die vorige week het Barnard ook 'n swemmer by die Punt van verdrinking gered. Shaw is bekend daarvoor dat hy 'n passie vir waterveiligheid het. Boonop het hy in die verlede ook al tot swemmers se redding gekom. Die raad het beide mans vir hulle dapperheid geloof.
"Ons is altyd lewensredders en ons doen dit waarvoor ons opgelei is. Ek hoop die toekenning gee lewensredding en lewensredders en die opoffering wat hulle vir ander maak, meer lugtyd in ons streek," het Shaw by navraag oor die toekenning gesê.
Amateurgholfer
Die jong gholfster Martin Vorster, tans die hoogste gekeurde amateurgholfer in Suid-Afrika, ontvang ook 'n ere-toekenning.
Vorster het na vyf maande waartydens hy van 'n besering herstel het, 'n merkwaardige prestasie behaal deur onder meer die 2021 South African Stroke Play Championship titel by die Randpark-gholfklub in te palm.
Martin Vorster
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'