MOSSELBAAI NUUS - Tydens 'n eerste vergadering tussen die waarnemende bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, kol Una Saayman en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, is ooreengekom dat meer gereeld byeengekom sal word om gemeenskapsbelange nóg beter te kan dien.
Kol Saayman, vergesel van die bevelvoerende offisier van die Da Gamaskop-polisiestasie, kol Mark Hartzenberg, het Woensdag, 20 Junie met adv Giliomee, raadslede en senior munisipale personeel vergader om knelpunte wat uit gemeenskapsvergaderings spruit, in oënskou te neem.
Tydens openbare vergaderings met landelike gemeenskappe wat die afgelope week gehou is, is kommer onder meer uitgespreek oor die beskikbaarheid al dan nie van polisielede na-ure in afgeleë gemeenskappe.
Veral op Herbertsdale, waar 'n polisiestasie bestaan maar skynbaar nie altyd na-ure beman word nie, het die gemeenskap 'n behoefte uitgespreek om 'n meer permanente teenwoordigheid van polisielede op die dorp te hê.
Die polisie se vermoë om oproerigheid aan te spreek is ook toegelig en kol Saayman het die versekering gegee dat by elke polisiestasie lede toegerus is in skarebeheer, en dat die openbare orde eenheid op George gereeld 'n seksie beskikbaar stel ter wille van insidente wat in Mosselbaai mag voorkom.
Die munisipaliteit het versoek dat oorweging geskenk moet word om 'n satellietstasie vanaf die Aslapark-gemeenskapsaal te bedryf, veral aangesien daar met die bou van die saal spesifiek voorsiening gemaak is vir so 'n diens.
Hierdie voorstel sal indringend ondersoek word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'