MOSSELBAAI NUUS - Hoewel misdaadvoorkoming nie 'n funksie van die munisipaliteit is nie, het die Mosselbaai raad hulle verbind om alles moontlik te doen om die veiligheid van alle mense in die groter Mosselbaai te bevorder.
In reaksie op die nuus dat die Eden-beskermingseenheid pas tot stand gebring is, het die munisipaliteit bevestig dat die veiligheid van alle inwoners vir die raad 'n prioriteit is wat daadwerklike aandag geniet.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het om daarom 'n burgemeesterskomiteelid, raadslid Anton Dellemijn afgevaardig om nou saam met die buurtwagstrukture, wat onder meer die SA Polisie en die munisipale wetstoepassingsentiteite insluit, saam te werk.
Raadslid Dellemijn word bygestaan deur die uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé.
Ook die kantoor van die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee is aktief betrokke om goeie samewerking tussen die munisipaliteit, SA Polisie en die groot aantal vrywilligers te verseker.
"Die raad is trots op sy onderskeie buurtwagte, wat hul eie tyd en hulpbronne opoffer om die breër gemeenskap se belange te beskerm.
"Dit speel gewis 'n groot rol in die bekamping van misdaad. Ons is verder ook in die proses om die munisipale beleid te wysig om dit makliker te maak vir buurtwagte om toegang tot sekere munisipale fasiliteite te kry, aldus burgemeester Levendal.
"Enige inisiatief wat ten doel het om ons mense te beskerm en wat binne die raamwerk van wetgewing val, word ondersteun. Inwoners word aangemoedig om deel te neem aan hul buurtwagte. Sodoende kan hulle ingelig word wat in hul gebiede aangaan."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'