MOSSELBAAI NUUS - Senior amptenare van die Mosselbaai-munisipaliteit het Dinsdag met besigheidseienaars en verskeie ander rolspelers van Voorbaai vergader na die onlangse kommerwekkende toename in misdaad by verskeie besighede die afgelope tyd.
Die verdagering is onder leiding van die burgemeesterskomiteelid, raadslid Anton Dellemijn, deur die munisipaliteit belê in oorstemming met die raad se toewyding om die veiligheid van almal in sy munisipale gebied te bevorder. Raadslid Dellemijn is deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal afgevaardig om veiligheidskwessies aan te spreek.
Sakelui het hul kommer uitgespreek oor die misdaad in die area en spesifiek die onlangse reeks inbrake, die impak daarvan op die plaaslike ekonomie en besighede, werknemers en veiligheidspersoneel se veiligheid.
Probleme
Van die grootste probleme wat deur die besigheidseienaars en verteenwoordigers van buurtwagte en veiligheidsmaatskappye uitgelig is, is die digte bosse wat as skuiling gebruik word.
Die uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé, het aangedui dat die raad reeds begin het met die ontbossing van die gebied, maar is in hul spore gestuit aangesien die meeste van die plantegroei nie afgekap of verwyder mag word nie.
Die spoorlyn word ook beskou as 'n probleemarea omdat dit as maklike ontsnappingsroete deur kwaaddoeners gebruik word.
Van die ander kwessies wat deur sakelui geopper is, is die gebrek aan sigbare polisiëring, veral na-ure, en die stadige reaksietyd en optrede deur die polisie.
Van die voorstelle wat deur verskeie bekommerde rolspelers gemaak is, sluit onder meer in, meer sigbare polisiëring in die industriële gebied en die daarstelling van 'n K9-honde-eenheid om patrollies op die spoorlynstrook te doen, beter en meer beligting en die versterking van die buurtwagte.
Die Diasstrand/Voorbaaibuurtwag het versoek dat besigheidseienaars meer ondersteuning bied aan en betrokke raak by die buurtwag om so misdaad te help bekamp. Die uitvoerende bestuurder, strategiese dienste in die kantoor van die munisipale bestuurder, Colin Puren het namens die raad aangedui dat hy met die logistieke reëlings en koördinering van 'n opvolgvergadering behulpsaam sal wees.
'n Poging sal aangewend word om al die besigheidseienaars in die Voorbaai-gebied na 'n opvolgvergadering te nooi om permanente en volhoubare oplossings vir die probleem te vind.
Dié vergadering word beplan vir Dinsdag, 28 November om 18:30 in die stadsaal.
Benewens sakelui, die polisie en buurtwaglede, is die byeenkoms ook bygewoon deur die burgemeester, raadsheer Levendal, die munisipale bestuurder, adv, Thys Giliomee, en verskeie ander munisipale amptenare.
Alle besigheidseienaars in die Voorbaai-gebied, tersaaklike buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en ander belanghebbendes word hiermee uitgenooi om die vergadering by te woon.
Navrae kan gerig word aan Colin Puren (044 606 5193) of cpuren@mosselbay.gov.za
Verteenwoordigers van die Mosselbaai munisipaliteit, die SA Polisie, sakelui uit die Voorbaai-area en onderskeie buurtwagte het byeengekom om inisiatiewe te bespreek om die toenemende misdaadtendens aan te spreek. 'n Opvolgvergadering vind op Dinsdag, 28 November in die stadsaal plaas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'