Die munisipaliteit het onder sy finansiële leiding twee skoon oudits gekry, en is ook in 2013 deur die Nasionale Tesourie saam met twee ander munisipaliteite as die finansieel gesondste munisipaliteit in die land aangewys.
Mnr Botha, wat in 1974 'n B Comm-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, en eers vir drie jaar as interne ouditeur by 'n bank gewerk het, se loopbaan in plaaslike regering het in 1977 by die Milnerton Munisipaliteit in die Kaap begin.
Hy het hom in April 1980 by die Mosselbaai Munisipaliteit aangesluit as senior rekenmeester, en is na ses maande tot adjunk-stadstesourier bevorder.
In 1982 het die munisipaliteit se bedryfsbegroting R6-miljoen en die kapitaalbegroting R4.5-miljoen beloop, vergeleke die bedryfsbegroting van R781.1-miljoen en kapitaalbegroting van R123.4-miljoen vir 2014/2015.
In 1982 het hy adjunk-stadstesourier van die Somerset-Wes Munisipaliteit geword, en in 1989 is hy as stadstesourier van Oudtshoorn aangestel. Hy is in Julie 1993 as stadstesourier van Mosselbaai aangestel. In 2002 het hy direkteur van finansies, met die gepaardgaande wetlike benaming van hoof finansiële beampte, van die geamalgameerde Mosselbaai Munisipaliteit geword.
Mnr Botha is 'n trustee van die Kaapse Gemeenskaplike Pensioenfonds vir munisipaliteite, en is tans die voorsitter van die fonds wat 'n totale batewaarde van meer as R4-biljoen het.
Hy het pas ook 'n toekenning die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Bestuur (SALGA) ontvang om erkenning te gee aan sy bydrae tot goeie finansiele bestuur in munisipaliteite, en meer spesifiek, by die Mosselbaai Munisipaliteit.
"Daar was baie hoogtepunte in my munisipale loopbaan. Die groot veranderings in plaaslike bestuur oor veral die afgelope 20 jaar was baie interessant en uitdagend. Alhoewel die stadsrade verander het, is die finansiële bestuursbeginsels konse-kwent toegepas, en dit het bygedra tot die goeie finansiële posisie waarin die dorp tans verkeer.
"Ek verlaat die Mosselbaai Munisipaliteit op 'n hoogtepunt in my loopbaan. Ons het die afgelope jare verskeie ongekwalifiseerde en skoon ouditverslae ontvang," het mnr Botha gesê.
Die munisipale bestuurder, dr Michele Gratz, het gesê mnr Botha het sy reputasie as een van die beste hoof finansiële beamptes in Suid-Afrika verdien, en die munisipaliteit gaan hom moeilik vervang. Hy het egter goeie bestuurstelsels en finansiële dissipline by die munisipaliteit gevestig waarop voortgebou kan word.
"Ons respekteer sy besluit, en wens hom alles van die beste toe vir die toekoms saam met sy gesin," het dr Gratz bygevoeg.

Mnr Herman Botha, tweede van links, saam met die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, Raadsheer Jim van der Merwe, Burgemeesterskomiteelid vir Finansies, en die Munisipale Bestuurder, dr Michele Gratz. Die Burgemeester wens mnr Botha geluk met die toekenning wat hy van SALGA ontvang het vir sy puik bydrae tot munisipale finansiële bestuur in Suid-Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'